top of page

Volharding in die regte wêreld

Ons lewe vêr van Jesus af. Dink daaraan dat die Paasfees wat ons paar weke terug gevier het, waar Jesus self aan die kruis gesterf het en opgestaan het uit die dood, baie vêr terug in ons geskiedenis was. Dit was ʼn heel ander wêreld, met ʼn ander kultuur, met ander gebruike en ander eise. En soms hanteer ons ook die boodskap daarvan bietjie vreemd. Jesus het gesterf en my verlos van my sonde in die verlede, sodat ek eendag hemel toe kan gaan – kategorieë wat vêr van my lewe in hierdie oomblik is en so bly Jesus vêr van my gewone bestaan af.


In die 60’s n.C. – die tyd van Caesar Nero - was daar ʼn verwoestende brand in Rome. Sommige mense se samesweringsteorieë sê dat Nero óf agter die stigting van die brand was óf doelbewus min daaraan gedoen het omdat hy ʼn monument-agtige bouprojek ter ere van homself ingedagte gehad het. Om homself onskuldig te hou het hy die blaam verplaas na Christene.

Die Romeine het die Christene beskryf as agterlike ateïste, ʼn splintergroep sekte van die Joodse geloof, want tot op daardie punt het die Christen beweging ontstaan uit die volgelinge van die Joodse rabbi, Jesus van Nasaret. Die splintergroep het hoofsaaklik armes en randfigure getrek en hulle het, soos die Jode, die versameling gode uit die Grieks/Romeinse mitologie verwerp ten gunste van ʼn enkele God, soos die Jode, met die bykomende ding dat Jesus die mensgeworde weergawe van die enkele God is. Vreemde mense, met ʼn vreemde God, met vreemde oortuigings wat lyk of dit die goeie orde van die heersende kultuur gaan versteur – maklike slagoffers van verdagmakery en dan vervolging. ʼn Wreedaardige vervolging van veral die leiers van die kerk het in die tyd begin.


Die apostel Petrus was iewers tussen 64 n.C. en 68 n.C. in Rome, waarskynlik as gevangene tydens hierdie vervolging. Ek vermoed hy het boodskappe gekry van hoe gelowiges regoor Klein-Asië (vandag se Griekeland en Turkye) baie sleg behandel word in die tye van vervolging en hoe hulle begin wankel het in hulle geloof, want Jesus het vêr gevoel. Die verlossing waarvan die verkondigers van Jesus gepraat het, het niks aan hulle regte-wêreld omstandighede verander nie, om die waarheid te sê, het dit in sommige gevalle eintlik versleg.


Petrus skryf dan ʼn omsendbrief aan die gemeentes om hulle aan te moedig om te volhard. En volharding beteken dan hier om Jesus se voorbeeld ter harte te neem en in die lyding en swaarkry in te stap, net soos Jesus in die lyding van die kruis ingestap het (1 Pet. 2:21). “...as julle volhard terwyl julle goed doen, en dan tog ly – dit is genade by God.” (1 Pet. 2:20)


Regte-wêreld geloof is nie maklik nie.


Geloof in die regte wêreld vra dat jy juis bereid is om vreemd te wees in die regte wêreld waarin jy leef. En die vreemdheid gaan maak dat mense jou uitsonder as dwars, moeilik, selfs dom en onrealisties – veral as jou geloof in Jesus maak dat jy onreg in ekonomiese stelsels en politieke magspel begin raaksien of morele keuses maak wat ander se keuses bevraagteken; wanneer jy die swakkes en randfigure se regte-wêreld ervaring aanspreek om God se wil te laat geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.


Dan mag dit voel dat om Jesus getrou te volg jou ook vêr van Jesus af kan laat voel. Petrus moedig jou dan aan, soos vir gelowiges in sy tyd: “...volhard terwyl julle goed doen” en “as jy dan tog ly – dit is genade by God” want dit wys dat Jesus juis naby is. Sy koninkryk kom en sy wil geskied deur jou en die status quo sukkel om dit te hanteer.


Paasfees is goeie nuus vir elkeen wat Jesus se opstanding bely.

Comments


bottom of page