Tydens ons spanvergadering hierdie week bespreek ons die navorsingsresultate van ‘n studie wat probeer vasstel hoe die kerk van die toekoms behoort te lyk en wat die fokusareas van só ‘n kerk behoort te wees.
Een van die bevindinge uit die navorsing is dat die hedendaagse mens waarskynlik met ‘n baie groter aantal mense, instansies, oortuigings en idees, en standpunte kontak het as ooit vantevore in die geskiedenis van die mensdom. Die hedendaagse mens is ingelig, verlig, bevry, verbind tot en “connected” aan ‘n wêreld wat net groter en groter word.
En tóg, so beweer die spesifieke navorsing, was die individu – die mens vandag – nog nóóit só eensaam en angstig soos nóu nie. Die Nederlandse skrywer en pastorale teoloog, Henri Nouwen, het in die 70-tiger en 80-tiger jare reeds hierdie eienskap en noodroep van menswees verwoord toe hy geskryf het: “Mense ervaar intense eensaamheid te midde van skares mense. Hulle is en bly soekend na liefde, aanvaarding, erkenning, ‘n sagte woord en ‘n genadige kyk. Mense sal hul kosbaarste – hul sélf – prysgee om net één keer liefde te ervaar.”
En omdat mense hierdie liefde en erkenning in valshede soek – besittings en beleggings wat toekomssekerhede belowe, ervarings, sukses en prestasie, status en publieke erkenning – sal hulle steeds soekend bly na liefde wat onverwags en onaangekondig dáár is, maar nié gesien word vir wat dit is nie.
In my lees deur die Psalmboek het ek ‘n tyd lank stilgestaan by Psalm 25. Dawid skryf hier baie oor die betekenis en waarde daarvan “om op God te vertrou.” Hy sélf het deur skade en skande geleer om in afhanklikheid van die Here te leef. En Hy kan talle gelowiges en hulle verhale uit die geskiedenis herroep wat die magtige teenwoordigheid en hulp van die Here ervaar het in hulle nood en omstandighede.
Daar is baie van ons wat regtig soek en hunker daarna dat die Here in ons lewensomstandighede sal ingryp en sy liefde en genade en betroubaarheid aan ons bekend sal maak.
Dalk het ek en jy dan bo-oor vss.14-15 gelees en nie goed besef wat daar staan nie.
“Die vriendskap van die Here behoort aan hulle wat Hom vrees; hulle ervaar die volheid en omvang van sy verbintenis aan hulle.” (vrye direkte vertaling uit Hebreeus)
Dawid besef, en sing van blydskap, omdat hy die ware aard van God se liefde ontdek en ervaar het. Wanneer ek en jy wéét dat God jou liefhet; dat die Here in Jesus Christus jou Vriend is wat jóu kant kies en bý jou staan, is daar nie báie dinge wat jou kan ontsenu nie.
En dan bely jy: “My oë is altyd op die Here gerig, want dis Hý wat my voete uit die vangnet sal hou.” (vs.15)
God, die Betroubare, leer my en jou om betroubaar te lewe – voor Hóm, en teenoor ander. En wanneer ons teenoor ander optree in liefde, met vergifnis en vryspraak, met genade in ons oë en hande, ervaar húlle die erkenning en aanvaarding waarna hulle hunker. En húlle kan verander, en reageer met wederkerigheid. Wie liefgehê word, kan liefhê. Wie liefde ontvang, kan liefde gee.
Dalk moet ons op ons pad as gemeente die toekoms in éérs weer sekermaak dat ons verstaan wat dit beteken en wat dit van ons vra as die Here ons Vriend wil wees. Dalk behoort ons méér intens begin te bid dat ons die volheid en omvang van sy verbintenis aan ons sal verstaan, en beleef, en uitleef.
Ek vermoed nogals dít kan wees wat die Here aan sy kerk wil gee soos die maande en jare ontvou. Om Hóm te ken as die Betroubare.
Comments