
Bediening na buite
Brugbouers in die wêreld
Kenridge Gemeente se Bediening na Buite help ons om prakties brûe te bou soos Jesus. Ons bied verskillende geleenthede vir gemeentelede om te kan uitreik, oor grense te kan beweeg en om betekenisvolle verhoudings met medegelowiges te kan bou. Jesus roep ons om om te sien na weerlose mense.
Ons is betrokke by verskeie organisasies en vennootskappe wat die belange van weerlose mense op die hart dra (kinders, mense met gestremdhede, seniors en werkloses) en sluit die volgende in:
Alta du Toit Nasorg
Alta du Toit Nasorg bied 'n tuiste aan volwassenes met intellektuele gestremdheid en spesiale behoeftes in Bellville. Ons lê weekliks op ʼn Dinsdag besoek af vir Bybelstudie.
Arise Shine Africa
ASA is 'n gemeente en gemeenskapsentrum in Mitchellsplein wat opheffingswerk, ʼn sopkombuis, leesprogramme, groente verbouingsprojekte en Bybelklasse aanbied.
Badisa Trio
Badisa is die NG Kerk in die Wes-Kaap se maatskaplike diensorganisasie. Badisa Trio is die tak wat verantwoordelik is vir die Noordelike Voorstede van Kaapstad. Hulle lewer maatskaplike dienste in die vorm van voedselhulp, klere, lewensmiddele, ouerleiding, gesinsorg, en pleegsorg.
Calvinia NG Gemeente
Kenridge en Calvinia is 'n hegte verhouding wat gedy tussen 'n stadsgemeente en 'n plattelandse gemeente wat mekaar wedersyds ondersteun en brûe bou met veral oor-en-weer kuiers, karoolammers en kuierfeeste.
Fisantekraal Sopkombuis
Tannie Doekies en Abraham doen evangelisasie in Fisantekraal vanuit hulle huis deur onder andere 'n sopkombuis, klereverskaffing en deurlopende opheffingsprojekte vir tot 500 mense.
Great Commission Network - God’s Merciful Hands Minitries
GMHM is 'n onafhanklike gemeente in Khayelitsha, met sowat 45 lidmate binne die Great Commission Network of Churches met wie ons saamwerk. Hulle fokus sterk op sopkombuise, klere, behuising, noodsaaklike lewensmiddele, ʼn skole- en gevangenisbediening.
Huis Ravenzicht
Huis Ravenzicht is 'n ouetehuis in Kraaifontein met sowat 140 inwoners wat almal van slegs ʼn staatspensioen afhanklik is oor onvoldoende fondse beskik.
Ligstad Bellville
Ligstad is 'n Bellville Ringsprojek wat fokus op die versorging van seniors asook leeslesse en pousebroodjies vir laerskoolkinders.
Maitland
Maitland Eenheidskerk is die gevolg van die samesmelting tussen VGK Maitland en Maitland Gemeenskapskerk. Hulle bedryf ʼn weeklikse sopkombuis en doen sosiale versorging en opheffingswerk in die Maitland gemeenskap.
Hospivision – Phakama Magadla
Hospivision bied beradingsdienste in staatshospitale. Phakama bedien Xhosasprekende pasiënte en bestuur vrywillige beraders in Karl Bremer Hospitaal.
M.E.S.
MES bedien straatmense, vreemdes en haweloses in die Bellville en Durbanville middestad-omgewing.
Ruyterwacht Seniorsentrum
Ruyterwacht Senior Sentrum bied ʼn heenkome aan 230 behoeftige seniors deur gebalanseerde etes 5 dae per week en allerhande ondersteuningsaktiwiteite aan te bied.
Sobambisana Community Development Projects
Sobambisana is 'n gemeenskapsontwikkelingsentrum in Cross Roads, Khayelitsha, met 4 fokusse:
-
Vulindlela ('n senior sentrum)
-
Sinethemba (gestremde leerlinge)
-
Educare (kleuterskool klasse)
-
Ouerleiding programme vir die ouers
-
Ons besoek hulle elke tweede Maandag en lewer ondersteuning deur bestuursondersteuning, instandhouding en aanbiedinge by die educare en/of Vulindlela
VGK Zithulele en Siyavuya Makawula
Zithulele is 'n VGK gemeente in die afgeleë dele van die Wildekus, Oos-Kaap. Ds. Mzukisi Mtyana en sy vrou, Khayakazi, is die leraarspaar. Ons ondersteun die gemeente maandeliks met ʼn finansiële bydrae en ʼn jaarlikse besoek in die Junie skoolvakansie.
Ons ondersteun ook vir Siyavuya Makawula, ʼn man uit die gemeente wat teologie studeer met die oog op bediening in die VG Kerk.

Jy kan op verskillende maniere deel raak van Bediening na Buite se werk:
-
Weeklikse uitreike: Ons besoek weekliks Sobambisana en Alta du Toit Nasorg.
-
Maandelikse uitreike: Ons besoek maandeliks vir Huis Ravenzicht, Maitland Gemeenskapskerk, Ruyterwacht Senior Sentrum en God’s Merciful Hand’s Ministries.
-
Kwartaallikse uitreike: Een maal per kwartaal het ons ‘n “werksdag” by Sobambisana waar ons instandhouding en herstelwerk doen.
-
Jaarlikse uitreike: Ons besoek jaarliks die gemeente in Zithulele, doen instandhouding aan die pastorie en bied ‘n winterskool aan vir die plaaslike hoërskoolleerlinge.
-
Insamelings: Hou ons afkondigings dop vir verskillende insamelings deur die jaar soos die Week van Oorvloed insameling tydens Pinkster
-
Finansieel: Maak ‘n finansiële bydrae tot Bediening na Buite se werk

Skakel in
Ons bied verskillende geleenthede vir gemeentelede om te kan uitreik, oor grense te kan beweeg en om betekenisvolle verhoudings met medegelowiges te kan bou.





