top of page

Die onsin en die waansin van die wonderwerk


ree

1 Korintiërs 1: 18

“Die liefde van die kruis is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.”

Waar ek nou sit en skryf, besef ek dat my hele hart in hierdie skrywe opgesluit lê. Soos jy hierdie brief lees, bid ek dat jy die teenwoordigheid van ‘n geliefde (en van God) in jou onmiddellike omgewing sal ervaar.

Ek het deur die verloop van my lewe geleer dat die lewe uiteindelik die algemene tema tussen eiers, groen gras, hasies, en die leë graf is – ‘n reis van krip tot kruis tot kroon. As Christene vind ons nie die waarde van die lewe in triomf en trone en krone nie, maar soos Christus, eerder in die ongewone: in die brood en die wyn – en soms ook die asyn – van die alledaagse lewe.

Tydens Paastyd kry ons baie boodskappe wat die betekenis van die kruisgebeure uitdruk: “Paasfees, Pasga, Plae en die Paashaas.” My skrywe is laat-aand gedagtes waarin ek poog om sin te maak van die verwesenliking van die wonderwerk wat ons op Goeie Vrydag vier: die opstanding van Christus. Wanneer ons Goeie Vrydag vier, dink ons opnuut aan die kruisgebeure en kruisteologie wat so ‘n belangrike (en besonderse) deel van ons Christelike oortuigings is. Maar tot vandag toe nog ag baie gelowiges hierdie kruisteologie vreemd… “Hoe kan dit wees dat enige iets goeds vanuit ‘n afgryslike en grusame kruisdood kan kom? Hoe kan die dood, veral ‘n skandelike kruisdood, tot die ewige lewe lei?” Dit is totale onsin en miskien selfs waansin! Hoe verstaan ons dit?

Niemand verstaan dit onmiddellik nie, want die groot gebeure op Golgota gaan die mens se klein verstand te bowe. Die vroue by die graf het dit nie verstaan nie. Petrus en Johannes het dit nie verstaan nie. Die Emmausgangers het dit nie verstaan nie…

Hierdie voorbeelde van “nie-verstaan” wat so deeglik deur die vroeë kerk opgeteken is, dui dan op die onsin en die waansin waarna ek verwys, maar dit is juis hierdie onsin en juis hierdie waansin wat die kruis dan kwalifiseer as ‘n wonderwerk: as die ware krag van God.

Ons hoef nie soos die dissipels die leë graf te sien nie. Ons hoef nie eers na Israel te reis om die plekke van hierdie gebeure persoonlik te besigtig nie. Ons hoef net die Skrifte ter hand en hart te neem. Begin om die Bybel op twee knieë biddend te lees. Jou hart sal gaandeweg brandend word onder die leiding en liefde van die Heilige Gees se onweerstaanbare werking. Jy sal Paasgeloof hê. Jy sal Opstandingsgeloof hê. Dit is met die Skrifte ter hand en hart dat ons altyd weer goeie Opstandings-moed mag hê. Nuwe lewenslus. Nuwe sekerheid. En dat ons daarin meegeneem word deur die krag van God.

Met Paasfees word alles oor Jesus se lewe en sy lot duidelik. Tydens Paasfees onthou die Kerk jaarliks die ongekende aard van die Paasgebeure – en maak die onsin en die waansin die wonderwerk net sóveel méér wonderlik. Want, met twee stukke hout en drie spykers in my hande kan ek miskien ‘n kissie of ‘n kassie bou, maar met twee stukke hout en drie spykers in God se hande bewerkstellig Hy Oorwinning en Verlossing en Vrede vir die ganse wêreld. Dit is inderdaad waansin – en dit is inderdaad ‘n wonderwerk: die krag van God.

Kan ‘n wolhaarstorie die wêreld se geskiedenis onderstebo draai en na 2000 jaar steeds totale wedergeboorte in mense se lewens bewerk? Nee, gewis, met Christus se opstanding het die werking en die “wonderwerking” van die kruis deurgebreek met ontsaglike sekerheid en hoop vir elke ware gelowe. Dít is dan wat ons in hierdie tyd herdenk.

Geniet hierdie heilige dae - in huise en harte en Woord.

Melinda Venter

(Kenridge Gemeentejaar student 2022)

 
 
 

Comments


bottom of page