top of page

'n Liefde so breed soos die wydste genade

Die kerk vier al baie lank Drie-Eenheidsondag op die eerste Sondag na Pinkster. Die kerk en gelowiges probeer al vir eeue lank die Drie-Eenheid van die Here verstaan en dit verwoord.


Niemand het genoeg begrip of genoeg woorde om dit volledig te verstaan of te verwoord nie. God is te groot en te onbegryplik in sy liefde en sy wese. 

Die geloofsbelydenis van Athanasius stam waarskynlik uit die jare 500nC uit Spanje of Suid-Frankryk uit. Sover bekend, is dit in die 13de eeu met die ander twee ekumeniese belydenisskrifte gelykgestel.



Daarin word baie moeite gedoen om soveel as moontlik reg te laat geskied aan die werklikheid daarvan maar ook die menslike en bomenslike, Goddelike heerlikheid van die Triniteit van die Here. Hieronder is vir die blootstelling, leersaamheid en (hopelik) die interessantheid daarvan 'n klompie artikels daaruit.


'3. Die algemene geloof is: Ons moet die een God in die Drieheid en die Drieheid in die


Eenheid eer,


4. sonder om die persone te vermeng of die wese te deel.


5. Want die persoon van die Vader is 'n ander, dié van die Seun is 'n ander, dié van die


Heilige Gees is 'n ander.


6. Tog het die Vader en die Seun en die Heilige Gees een Godheid, gelyke eer en gelyke, ewige heerlikheid.


7. Soos die Vader is, so is ook die Seun en ook die Heilige Gees.


8. Die Vader is ongeskape, die Seun is ongeskape, die Heilige Gees is ongeskape;


9. onmeetlik is die Vader, onmeetlik is die Seun, onmeetlik is die Heilige Gees;


10. die Vader is ewig, die Seun is ewig, die Heilige Gees is ewig.


11. Nogtans is daar nie drie ewiges nie maar een Ewige,


12. net soos daar ook nie drie ongeskapenes of drie onmeetlikes is nie maar een


Ongeskapene en een Onmeetlike.


13. Eweneens is die Vader almagtig, die Seun almagtig, die Heilige Gees almagtig;


14. en tog is daar nie drie almagtiges nie maar een Almagtige.


15. So ook is die Vader God, die Seun God, die Heilige Gees God;


16. en tog is daar nie drie gode nie maar een God.


17. Net so is die Vader Here, die Seun Here, die Heilige Gees Here;


18. en tog is daar nie drie heres nie maar een Here.'


Athanasius se belydenis hierbo maak dit beslis nie makliker om die Drie-Eenheid van die Here te verstaan nie. Wat ons as gelowiges van die Drie-Eenheid van die Here kan onthou en aan kan vashou, is dat Hy oneindig groot in sy liefde vir alle mense is en in 'n persoonlike verhouding met mense wil wees.




Comments


bottom of page