Die paradoks van die hemelvaart
- Kenridge Gemeente

- May 20, 2022
- 3 min read

Joh 14:1 “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. 2In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. 3En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” ‘n Tyd gelede was die krag af en dit dwing my toe om vir ‘n tyd in ‘n koffiewinkel te gaan sit en werk. Langs my was ‘n gesinnetjie met ‘n klein dogtertjie. Dit was duidelik dat haar pa waarskynlik vir werk ‘n paar dae moes weggaan. Hy het gegroet met die belofte – “moenie hartseer wees nie - pappa moet weggaan maar ek kom weer terug. Moenie bang wees nie, mamma is by jou. Dis net ‘n paar slapies dan is pappa weer terug.” Dit het my amper woordeliks herinner aan die belofte van Jesus aan sy dissipels voor sy hemelvaart in Joh 16:7 - “Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur.” Op geen manier kon hierdie klein dogtertjie intellektueel of emosioneel begryp wat haar pa bedoel nie. Die verskil was dat mamma by haar gebly het. Sy het haar getroos en sy was veilig in haar mamma se sorg. Dis presies die goeie nuus van die Hemelvaart. Jesus moes weggaan maar hy het die Heilige Gees by ons laat bly om ons te versorg totdat hy weer sal terugkom. Soos vir daardie dogtertjie is dit vir ons moeilik om te verstaan dat dit vir ons voordelig is dat Jesus nie fisies meer by ons is nie! Maar die Gees se teenwoordigheid maak ons rustig. William Temple skryf dat Jesus na sy Hemelvaart nader aan ons is as ooit tevore - en ek haal Piet Naudé se Afrikaanse vertaling daarvan aan - “Christus se Hemelvaart het Hom vrygemaak van alle aardse beperkings van tyd en plek. Dit beteken nie dat Hy nou van die aarde verwyder is nie, maar juis dat Hy nou permanent, altyd en oral, by ons teenwoordig kan wees. Ons Vader is deur sy Seun en die Heilige Gees nou nader aan ons as ons vel.” Al het dit vir die dissipels gevoel soos die einde van die vel op vel kontak met God – was Hy nou “nader aan hulle as hulle vel.” Die teoloog Helmut Thielike verwoord dit so - “The ascension does not mean that Jesus leaves us; on the contrary, it means that He comes terribly near to us.” Mag ons in die deurmekaar en onseker wêreld van 2022 beleef dat Jesus na sy Hemelvaart nader aan ons is as ooit in die verlede. Kom vier Donderdag, 26 Mei, die Hemelvaart van Jesus saam met ander gelowiges en sien saam uit na Pinkster wanneer ons die teenwoordigheid van die Heilige Gees by ons herdenk. Kom ons herinner mekaar dat “Pappa oor ‘n paar slapies weer by ons sal wees”. Daarom hoef ons nie bang en ontsteld te wees nie! Bid saam met ons vir ‘n geseënde Pinkstertyd. Vrede vir jou. Willem.




Comments