top of page

God is nou hier


ree

Een van die uitdagings van Christen-wees, is dat baie gelowiges min beleef van die werklike teenwoordigheid van God. In my eie lewe was daar al oomblikke waartydens ek sonder twyfel geweet het: God is nou hier. Die meeste van hierdie ervarings het ek beleef op uitreike, wanneer die Here iets gedoen het wat onverwags en buite ons menslike vermoëns was, of tydens lof en aanbidding wanneer ‘n mens emosioneel naby aan die Here kom. Daar was ook al omstandighede wat in my lewe só uitgewerk het, dat ‘n mens nie anders kan as om te besef: hierdie dinge wat nou gebeur het was net die werk van die Here; God is nou hier. Maar hierdie ervarings is beslis nie alledaags nie – dit gebeur eintlik maar min. En tog is die Bybel propvol verhale van mense wat lewensveranderende, aardskuddende, persoonlike ervarings met God gehad het: van Moses in die Tent van Ontmoeting tot die dissipels tydens die uitstorting van die Heilige Gees. Ook leer ons in die Woord dat Christus gesterf het sodat daar geen skeiding tussen ons en die Here kan wees nie; God wil in ‘n persoonlike verhouding met ons wees. In Psalm 139: 7 en 8 staan daar: “U is oral. Daar is nie ’n plek waar ek heen kan gaan waar U nie is nie. As ek hemel toe gaan, is U daar. As ek doodgaan, is U by my.” (Die Boodskap) En dan lui Psalm 16:11: “Daar is niks wat iemand groter blydskap kan gee as om saam met U te wees nie.” (Die Boodskap) Uit hierdie verse is dit duidelik dat God se teenwoordigheid ‘n werklikheid is. Dit is goed, dit bring vreugde, en dit is toeganklik vir ons! Dink vir ‘n oomblik na oor hierdie stelling en aanvaar dit as die waarheid wat deur die Woord van God aan ons openbaar word. Jy het die geleentheid om op enige plek en op enige tyd in die teenwoordigheid van die Lewende God te wees! Daarbenewens kan jy glo dat God jou gemaak het om in ‘n verhouding met Hom te wees. Met ander woorde, jy is geskep om die teenwoordigheid van die Here te beleef. Maar God sal egter nooit sy teenwoordigheid op jou afdwing nie. Hy vul slegs dít wat oop en gewillig is om te ontvang. Daarom is jou rol om eenvoudig op soek te wees na God in allerhande dinge; in klein, alledaagse dinge en in groot lewensveranderende gebeure. As jy tyd maak om die Here te ontmoet, glo in sy Woord en jou hart oopstel vir Hom, sal Hy jou nie teleurstel nie. 29“Dan sal julle weer na die Here begin verlang. En as julle Hom met alles in julle soek, sal julle Hom vind. 30As al hierdie verskriklike dinge met julle gebeur en dit met julle sleg gaan, maar julle draai terug na die Here toe, móét julle opnuut na Hom luister. 31Onthou, die Here is ’n God wat oorloop van goedheid. Hy sal julle nie sommer los of weggooi nie. Hy wil nog steeds die liefdesverbond wat Hy al met julle voorvaders gesluit het, in ere hou.” – Deuteronomium 4”29-31 (Die Boodskap) Groete Johan



Comments


bottom of page