Moenie toelaat dat slegte nuus jou vreugde steel nie


Deur Willem Lötter












Ons het in Suid Afrika vir ‘n paar maande ‘n bietjie “normaliteit” en iets van die lewe voor Covid beleef. Die aankondiging verlede week van ‘n nuwe variant in Suid Afrika en die gevolglike reisverbod wat baie lande teen Suid Afrika ingestel het, was egter ‘n baie groot teleurstelling. Daar is baie trane van magtelose teleurstelling in baie familie- en vriendekringe oor beplande reise en langverwagte kuiers wat nou in die slag bly. Dis ook nie lekker om te hoor dat ‘n “post-covid” lewe nie op die horison lê nie en dat ons ‘n “met-covid" leefstyl gewoond moet raak. Intussen skiet die brandstofpryse en die werkloosheidsyfer hierdie week rekord-hoogtes in. Dan sê die Bybel in Jak 1:2 ‘n vreemde ding - “My broers en susters, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom...”. Dis ‘n moeilike een. In die taal van die Ou Afrikaanse Vertaling - “Ag dit louter vreugde” as dit sleg gaan. Dit maak natuurlik glad nie sin nie!


Jakobus sê egter nie ons moet bly wees oor die beproewing self nie. Ons moet bly wees oor die resultaat wat beproewing in ons lewe het:


· dit oefen ons geloofspiere en dit help ons om geestelik fiks te raak.

· dit leer ons afhanklikheid van God wat die diepste vorm van vreugde en geluk is.

· dit leer ons die vreugde van gebed ontdek.


Saam met die oproep tot blydskap kom ‘n uitnodiging dat ons moet bid vir wysheid. God belowe dat Hy dit sál gee wanneer ons gelowig vra. Gebed is nie ‘n towerformule wat ons probleme wegvee nie. Dit trek ons wel dieper in die vreugde van ‘n intieme verhouding met Hom in. Paulus herinner ons ook in Filippense 4 dat ons in moeilike tye moet fokus op alles wat waar, edel, reg, mooi, en prysenswaardig is. Die netto resultaat van ‘n positiewe lewensuitkyk is vreugde en vrede wat alle verstand te bowe gaan.



Kom ons herinner mekaar elke dag aan God se getrouheid en aan die mooi in die lewe. Kom ons raak saam fiks vir die lewe.



Gebed


Here help ons sing, bid en fokus op al die mooi, al gaan dit sleg met ons.


Amen.



Lekker naweek.



45 views

Recent Posts

See All