top of page

"Saturation"


Deur Johan Steenkamp

ree

As ‘n mens met video en foto’s werk, dan is een van die terme wat jy dikwels teëkom, saturation. Saturation verwys na die intensiteit van kleure in ‘n foto of ‘n videobeeld; hoe hoër die saturation, hoe duideliker en helderder is die kleure; lae saturation sal die beeld se kleur uitgewas, vaal en grys laat lyk.


Wanneer ‘n mens fotos of video afneem word die saturation beïnvloed deur verskeie faktore: die tipe lig, of dit dag of nag is, die afstand waaroor jy afneem, en nog vele ander. Gelukkig laat die meeste sagteware jou toe op die saturation later te stel en om regstellings te maak; maar as jy ‘n skilder is, wat verf meng om die regte skakering van kleur te kry, kan die saturation net verander word deur een kleur met ‘n ander kleur te meng – en hierdie proses is onomkeerbaar.


In die Bybel is daar verskeie teksgedeeltes wat ons beter kan verstaan as ons in terme van saturation dink. Een voorbeeld is in Esegiël 1, waar dié profeet ‘n visioen van die Here sien. Dis asof die Here in hierdie teksgedeelte die saturation op en op en selfs nóg op stel om iets van sy heerlikheid sigbaar te maak. Die kleure is helder en ryk en diep versadig. Dís die tipe kleure wat jy nou in jou geestesoog moet probeer sien, wanneer jy Esegiël 1 vanaf vers 26 lees:


“Bokant die koepel bo hulle koppe was daar iets soos ’n troon van blou saffier. Hoog bokant hierdie troon was daar ’n figuur wat soos ’n mens gelyk het. Van sy heupe af boontoe het sy lyf gegloei soos witwarm metaal. En van sy heupe af ondertoe het hy gelyk soos ’n baie helder vlam wat brand. Reg rondom hom was die lig so helder soos die glans van ’n reënboog tussen die wolke. So het die heerlikheid van die Here aan my verskyn.”


Soms draai die Here die saturation op om ons te help om bepaalde dinge raak te sien of om ons te help om iets meer intens te beleef. Ek het die afgelope week ‘n ervaring gehad waartydens ek beleef het hoe die Here ons gemeente versorg en vir ons bly voorsien ten spyte van uitdagende omstandighede. In jou lewe mag jy dalk al soortgelyke ervarings gehad het. Was daar al ooit tye wat jy beleef het dat die Here kleur tot jou lewe voeg sodat jy iets van Hom kan ervaar?


Op ‘n ander plek in die Bybel, in Jesaja 1, gebruik die Here weer saturation om die teenoorgestelde te doen: Hy wil iets minder sigbaar maak en daarom draai hy die saturation af. In Jesaja 1:18 staan daar:


“Dit maak nie saak hoe diep die vlekke van julle sonde is nie, Ek kan dit skoonmaak. Al was julle bloedrooi gevlek van die sonde, kan Ek dit wegwas en julle so wit laat word soos sneeu wat nou net geval het. Selfs al is die vlekke van julle sonde purperrooi, sal Ek julle skoonmaak sodat julle so wit soos splinternuwe wol sal lyk.”


Hier stroop die Here die kleur van ons sonde af. Ons oortredings word vaal en grys en minder sigbaar omdat Jesus die prys daarvoor betaal het. Eintlik vat Hy ons sonde heeltemal weg; Hy was ons silwerskoon. “Silwerskoon” is ook interessante beeldspraak, want watter kleur is silwer nou werklik? Dis ientlik mos maar net blink – nie werklik ‘n kleur nie.


Mag jy hierdie week die Here deur kleure beleef. Mag helder, ryk, versadigde kleure jou herinner aan die goedheid van God; dat Hy altyd by jou is; en dat Hy die bron is van alles wat mooi en kunstig en goed is.


En mag vaal gryse en uitgewasde kleure jou bewus maak van die prys wat Hy aan die kruis betaal het sodat jou sonde kragteloos en impakloos en volkome vergeetbaar kon word.




 
 
 

Comments


bottom of page