Vir die eerste keer, vir die laaste keer
- Kenridge Gemeente

- Jan 24, 2022
- 2 min read

Welkom by Kenridge gemeente se eerste Vrydagnuus vir 2022!
Hierdie skrywe is egter bittersoet: Daar is groot verwagting dat 2022 ‘n beter jaar as 2021 sal wees en ons beplan lekker dinge hier uit die kantoor uit. Dis wel die laaste Vrydagnuus wat uit my pen gaan kom.
Na meer as 10 jaar in Kenridge gemeente, het my seisoen hier tot ‘n einde gekom. Ek begin in Februarie by Badisa se hoofkantoor in Bellville werk, as deel van hul Vroeë Kinderontwikkelingspan. My fokus gaan wees om vennootskappe te vestig tussen VKO-inisiatiewe en gemeentes. Dis een van die breë kerk se strategieë vir armoedeverligting en ook versoeningswerk in gemeenskappe – beide sake baie naby aan my hart. Hierdie skrywe is dus die eerste, maar ook die laaste.
Jesus praat ook van eerstes en laastes, spesifiek in Matteus 20. Jesus vertel ‘n gelykenis oor hoe die koninkryk werk. Hy vertel van die werkers wat op verskillende tye deur die dag begin werk het. Alhoewel hulle nie almal dieselfde ure gewerk het nie, het hul dieselfde vergoeding ontvang. Die werkers wat langer ure gewerk het, was baie ontevrede oor hierdie vergoedingstelsel. Die werkgewer vra toe of die oggendwerkers afgunstig is oor wat die werkgewer met sy geld maak. En dan spreek Jesus sy gehoor direk aan met die woorde in Matteus 20:16:
“So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste.”
Ek het nog altyd gewonder wat bedoel Jesus hiermee? Teoloë het baie verklarings vir hierdie woorde, baie word geskryf oor diensbaarheid en nederigheid. Wanneer ek hierdie woorde van Jesus lees, lei dit my egter na wie God is (deur Jesus in hierdie teks), eerder as na wat ons as gelowiges moet doen (ons is mos alreeds nederig en diensbaar, né!)
Daar is ‘n vertelling in die Joodse tradisie wat lui dat wanneer mense in ‘n kring dans, niemand eerste is nie en niemand laaste nie. Jesus se hoorders sou hierdie Joodse sê-ding geken het, en miskien is dit juis wat Hy met hierdie vergelyking wou verduidelik – dat die God van die koninkryk nie mense in ‘n lyn laat staan en genade en liefde en verlossing uitdeel volgens ons posisie in die ry nie. Maar dat ons in ‘n sirkel staan, met Hom in die middel, ons almal ewe naby en ewe ver van Hom af. Nêrens kan iemand kan roem op ‘n voorste posisie, of brom oor laaste posisie nie.
Wanneer mens in ‘n kring dans, kyk mens inelkgeval nie vir die persoon voor/agter/langs jou nie – jou fokus is na die middel toe. In die Koninkryk is die Here in die middel.
Mag ons aanhou dans in die Koninkryk se kring. Mag ons die kring groter maak.
Mag ons altyd ons oë na die middel toe fokus, op die Een aan wie se liefde, genade en rykdom geen einde ken nie.
Mag ons dít wat ons ontvang, altyd deel. Mag ons aanhou brûe bou soos Jesus.
Tot ons mekaar weer sien,
Melanie
Die bedieningspan nooi almal hartlik uit na Melanie se afskeidspreek tydens die 09:00 erediens op 30 Januarie, gevolg deur 'n geselligheid na afloop van die diens.




Comments