top of page

Wat is ‘n aanbiddingslied?



Het jy al ooit gewonder wat ‘n aanbiddingslied (“worship song”) is? Ek het al letterlik honderde Christelike liedere gehoor oor die radio, op YouTube en op my aanlyn musiekdiens, maar nie almal van hulle is aanbiddingsliedere nie; hulle gaan oor die Here, maar dis nie aanbidding nie. Of miskien het jy al gewonder hoekom sing ons nie die nuutste Christelike treffer in die kerk nie? Dis waarskynlik omdat daardie treffer nie werklik ‘n aanbiddingslied is nie. So waaraan moet ‘n lied voldoen om te kwalifiseer as ‘n worship song? Ek dink ‘n aanbiddingslied is ‘n lied wat gesing word aan of oor die Drie-Enige God, op só ‘n manier dat dit deur ‘n groot groep mense (gewoonlik ‘n gemeente) saam gesing kan word. So met daardie definisie in gedagte, kan ons die volgende vrae oor elke potensiële aanbiddingslied vra:

  • Vir wie word hierdie lied gesing?

  • Waaroor gaan die lied?

  • Wie is die persoon of persone wat sing?

“Sy liefde is meer” is ‘n lied wat geweldig gewild in ons gemeente is. As ons die drie vrae op hierdie lied sou toepas, sou ons kon sê dat dit is ‘n lied wat gesing word deur gelowiges aan medegelowiges om God se liefde en genade te vier en saam daaroor bly te wees. Die lirieke lui: “Prys ons God Hy het ons verlos Christus, ons Redder, ons bring Hom eer Ons sonde is ontelbaar, sy liefde is meer.” ‘n Pragtige lied, wat ons onlangs begin sing het, is “Daar is meer”. As ons die drie vrae oor hierdie lied sou vra, sou ons kon sê dat hierdie lied aan die Here gesing word deur gelowiges wat diep onder die indruk is van God se liefde en sy oneindige goedheid. Daarom sing ons in die refrein: “'n Liefde wat oorweldig ‘n liefde wat net gee hoër as die berge dieper as die see Jesus, in U is daar meer.” “Herder Heer” bly een van my gunstelinge. In hierdie lied roep ‘n gelowige, wat diep bewus is van haar eie menslikheid en kwesbaarheid en wat skynbaar deur ‘n moeilike tyd gaan, na die Here en bely sy dat sy swak en moeg en dors is, maar dat daar water, rus en nuwe krag by die Here is: “Herder Heer, na wie ek soek, ek wil luister as U roep Want ek swig, ek val en gly as u stem verdof in my.” “Daar is waters in woestyne by die Herder se fonteine. As die storms woed in my sal ek daar my rus kom kry.” Het jy opgelet dat al drie hierdie liedere eintlik net sin maak as dit deur ‘n gelowige gesing word? Dít is nogal kenmerkend van ‘n goeie aanbiddingslied. Al drie hierdie liedere gaan ook duidelik oor ‘n eienskap van God waarvan ons in die Bybel lees. Dit is baie belangrik vir ‘n aanbiddingslied. In die tweede en derde lied, word die Here direk aangespreek, maar nie in die eerste lied nie; so dit beteken dat nie alle aanbiddingsliedere die Here direk aanspreek nie en daarom is dit nie noodwendig ‘n vereiste vir ‘n goeie aanbiddingslied nie. Wat wel ‘n vereiste is, is dat die lied lekker deur ‘n groep mense saam gesing moet kan word. Ons praat hier van gemeentesang en as sulks wil ons hê almal moet kan deelneem aan die aanbidding. Dit sluit dadelik ‘n klomp liedere uit waarvan die melodie te kompleks is en wat te moeilik sing. Al kan ons nie hierdie tipe liedere in die kerk saam sing nie, kan jy hulle egter met vreugde gebruik in jou persoonlike aanbidding by die huis of in die motor oppad werk toe. Mag die Here jou al hoe dieper aanraak deur musiek en mag jy Hom aanbid deur te sing; saam met ander gelowiges en op jou eie! Groete Johan

4 views

Recent Posts

See All
bottom of page