top of page

Asem


ree

Wanneer laas het jy oor jou asem gedink? Dis gewoonlik iets wat baie ver van ʼn mens se gedagtewêreld is, totdat jy nie meer asem kan kry nie. Ek weet nie of jy dalk lewe met asma, of al verstik het, of gesukkel het om onder die water uit te kom, of dalk ʼn paniek-aanval beleef het nie. Al hierdie dinge gee daartoe aanleiding dat jy sukkel om asem te haal en nie genoeg lug by jou longe kan inkry nie en soms in sulke chaotiese oomblikke wonder jy of jy dalk gaan doodgaan?

 

Reg aan die begin van die Bybel – sommer die tweede sin – is daar die woorde: “Die aarde was vormloos en leeg en daar was donkerte oor die dieptes. Die asem van die Here het gehang oor die waters...” (My eie direkte vertaling) Die diepte en die water en die vormloosheid sou skynbaar vir enige leser in die Ou Testamentiese tye niks anders as chaos beteken het nie. Die woord wat ek met asem vertaal het, is waarskynlik in jou Bybel vertaal met Gees. Wanneer God in die tweede hoofstuk die mens uit die grond skep, blaas God die lewensasem in die mens in wat hom lewendig maak.

 

Dan asem die mens in-en-uit; Die lewensasem; Die asem wat hang oor die aarde.

 

Ons dink nie oor ons asem en wat ons in- en uitasem nie. Ons noem dit soms lug en soms selfs die unieke element, suurstof, maar die getuienis van die Bybel is dat die ding wat ons lewe gee, is God se asem, God se Gees, wat hang oor die aarde. In die Nuwe Testament sien ons met Hemelvaart Jesus word opgeneem in die hemele, ek vermoed om weer oor die aarde te kan hang. Tien dae later, stort hy sy Gees – in Grieks, die Pneuma of anders vertaal, asem – oor sy volgelinge uit.

 

Die rede hoekom jy meestal nie dink oor jou asemhaling nie, is omdat dit deur die outonome senuweestelsel beheer word, of die “outomatiese” deel van jou brein. Daai deel van jou brein beheer ook jou bloeddruk en temperatuur regulering en ook die honger en dors seine in jou lyf. Van al die outomatiese prosesse in jou lyf is jou asemhaling die enigste proses wat jy doelbewus kan beïnvloed. Wanneer jy agterkom dat jy vlak en vinnig asemhaal, kan jy besluit om dieper en stadiger asem te haal, tot jou lyf dit weer outomaties teen ʼn dieper en stadiger tempo voortsit.

 

Hierdie tyd in die Kerkjaar – Pinkster - is die tyd wat ons dink oor ons geestelike asemhaling. Tradisioneel is die hele tien dae tussen Hemelvaart en Pinkster-Sondag afgesonder vir gebed. Prof. Johan van der Merwe skryf:

 

“Die wyse waarop Pinkster in die NG Kerk gevier word is een van die kerk se unieke en uitstaande kenmerke. Geen ander Afrikaanse kerk hou pinksterdienste of pinksterbidure nie. Hierdie gebruik dateer uit 1861 toe die eerste pinksterbidure onder leiding van ds GWA van der Lingen in die Paarl plaasgevind het. Op soek na herlewing in die gemeente, is daar besluit dat gemeentelede vanaf Hemelvaart tot met Pinkstersondag aktief om herlewing sou bid. Die gevolg was ’n herlewing wat vanaf 1862 gaandeweg na al die ander gemeentes van die NG Kerk oorgespoel het. Deur die geskiedenis het hierdie gebruik van pinksterbidure tot nuwe lewe in honderde gemeentes en in die lewe van duisende lidmate gelei.” (Kerkbode, 7 Mei 2021)

 

God kom aan die begin deur sy Gees en bring orde aan ʼn chaotiese skepping. Dan gee God deur sy Gees lewe aan mense. Jesus word opgeneem in die hemele – ʼn deel van God se skepping hier rondom ons. Daarna stort hy sy Gees uit en deur gewone mense begin hy die herskepping in die chaos van mense se lewens.

 

In hierdie seisoen van die kerkjaar; in hierdie seisoen van ons land se geskiedenis; in hierdie seisoen van ons gemeente; wil ek jou nooi om te dink oor jou asemhaling, die ritme en die diepte daarvan. Dink oor wat jy inasem:

Die asem van God wat oor chaos hang.

Die asem van God wat orde skep.

Die asem van God wat lewe gee.   

 
 
 

Comments


bottom of page