top of page

Om 'n pad te vind deur disinformasie

Het jy al ooit ’n aktuele saak met iemand probeer bespreek en dan ervaar dat daardie persoon in ’n alternatiewe realiteit leef en oor totaal ander feite as jy beskik? Ek is seker die meeste van ons het ten minste één so ’n familielid!

Sedert die internet en sosiale media deel geword het van ons alledaagse lewe het mense die geneigdheid ontwikkel om inligting in te win volgens hul individuele voorkeure. Dit het die gevolg dat nuus en inligting deesdae eerder gebruik word om ons bestaande persepsies te bevestig in plaas daarvan om nuwe informasie in te win.

Trevin Wax skryf in hierdie verband: “It’s about affirming what we already believe [and really want] to be true. And the ‘everywhere at all times available’ culture created by our smartphones gives us regular doses of news that tells us ‘You are right.’”

Dit het tot gevolg dat ons alternatiewe bronne van inligting, wat nie strook met wat ons wil glo nie, doelbewus ignoreer - ons kies inderwaarheid ons span en dan ondersteun ons daardie span ten alle koste. Oor tyd kan dit veroorsaak dat opponerende “spanne” se sienswyses sóveel van mekaar verskil dat dit wil voorkom asof hulle in verskillende realiteite leef. Dis waarskynlik wat in Suid-Afrika se politiek aan die gang is en dis een van die redes hoekom politieke partye nie gesamentlike oplossings vir ons land se probleme kan vind nie.

In hierdie era van misinformasie, disinformasie, fopnuus en kunsmatige intelligensie vra baie mense, soos Pilatus, “wat is waarheid?” (Johannes 18:38). Selfs ons Christene, wat die Een volg wat self waarheid ís (Johannes 14:6), kan op hierdie punt kom. Hoe nou gemaak?

Eerstens, wees skepties wanneer jy die Bybel lees. Beslis nie skepties oor die Woord van God nie - ons glo die Woord is die onfeilbare waarheid van God (Johannes 17:17), maar skepties oor jou eie rede, jou eie intuïsie, die manier waarop jy die wêreld sien en verstaan. En ook oor wat ander mense vir jou oor die Woord sê. Die Woord is onfeilbaar, maar mense is nie; mense maak foute, verstaan dinge verkeerd en kan oor tyd tot nuwe insigte kom.

In Handelinge 17:11-12 lees ons hoe die mense van Berea met groot belangstelling na Paulus se prediking geluister het. En dan lees ons: “Hulle het elke dag die Skrifte ondersoek om te sien of dit is soos Paulus en Silas sê.” Hierdie is gesonde, Christelike skeptisisme; om gereeld te ondersoek; om gereeld te vra: verstaan ek reg? Hoor ek reg? Wil die Here dalk my persepsie verander? Moet ek dalk iets nuut leer?

Tweedens, beperk jou gebruik van sosiale media. Brett McCracken skryf die volgende in sy boek, The Wisdom Pyramid: “more data; less clarity. More stimulation; less synthesis. More distraction; less stillness. More speaking; less listening. More to look at; less to see. More amusements; less joy.

Die mensdom was nog nooit vantevore só connected aan mekaar nie, en tog is die grootste probleem waarteen ons deesdae struwel, eensaamheid. Ons het nog nooit vantevore soveel toegang tot inligting gehad nie, en tog weet niemand deesdae meer wat is die waarheid nie. Dit is egter eenvoudig so: as ons meer tyd sou spandeer om die Bybel te lees as wat ons op sosiale media deurbring, sal hierdie situasie vinnig verander.

Laastens, stel jouself bloot aan standpunte waarmee jy nie saamstem nie. Dit is nie verkeerd om meer inligting te kry oor standpunte waarvan jy verskil nie - jy mag dalk selfs vind dat dit jou bestaande standpunte sal toets en bevestig. Met ander woorde, dalk verstaan jy beter hóékom jy glo wat jy glo. Of dalk kry jy ’n nuwe perspektief op ’n saak en jy besef skielik dat jy toe die hele tyd eintlik blind was. Wees versigtig om bronne van nuus en inligting summier te verwerp omdat jy daarvan verskil. Maar stel jouself eerder oop vir meer bronne van inligting, terwyl jy die Here vra vir die onderskeidingsvermoë om te kan verstaan wat Hy vir jou wil leer.

Comments


bottom of page