Aandag asseblief!
- Kenridge Gemeente

- Mar 25, 2022
- 3 min read

Die Vierde Industriële Rewolusie is ʼn nuwe gonswoord. Ek is nie heeltemal seker waaroor dit presies gaan nie, maar soos ek dit verstaan, is dit hoe die wêreld deur outomatisasie en A.I. (artificial intelligence) omvorm word. Van die praktiese maniere hoe ek die rewolusie elke dag beleef, is hoeveel dinge ek deesdae met my slimfoon kan doen. Daar is ʼn app vir enige denkbare ding en as jy die regte toestelle het, kan jy selfs deesdae koffie maak met jou foon. Jou koffiemasjien moet net kan koppel aan jou Wi-Fi netwerk en jy moet die app vir die masjien op jou foon hê, dan kan jy in jou slaapkamer lê, op jou foon kies of jy nou lus is vir ʼn espresso, ʼn flat white of ʼn latté. Teen die tyd dat jy by jou masjien kom, moet jy net hoop dat daar ‘n skoon koffiebeker onder die spuitjie gestaan het.
Saam met hierdie Vierde Industriële Rewolusie het daar ʼn nuwe kommoditeit ontstaan, waaraan besighede baie geld spandeer. Jy kan hierdie kommoditeit nie gaan myn aan die Weskus nie. Jy kan dit ook nie produseer in ʼn fabriek in China nie, maar die besighede vandag myn en produseer dit deur jou slimfoon. Hierdie kommoditeit is aandag. Hoe meer aandag ‘n besigheid kan trek, hoe groter die kans dat mense geld aan die besigheid sal spandeer.
Ek het al ‘n keer of wat daarna verwys. Dis die kommoditeit wat enige sosiale media aan die gang hou. Advertensies het uit gedrukte media geskuif na blokkies op apps en webtuistes. Sogenaamde F.O.M.O. (fear of missing out) maak dat mense deesdae selfs in die verkeer op hul fone besig is met hul sosiale media tydlyne of nuus-apps. En elke app op jou foon stuur vir jou notifications wanneer iets nuut gebeur, sodat jy moet kom kyk. Ek sien deesdae vra selfs webtuistes of hulle maar vir jou notifications kan stuur, sonder dat dit oop is in jou browser.
Al hierdie dinge wat so gryp na my aandag, koek saam aan my emosies en gedagtes, soos taai swart turf-modder aan motorbande. Dit vorm ‘n dik laag om my vermoë om te hoor en te sien waarop dit regtig aankom. Dit stomp my af vir wat net ‘n armlengte verder as my skerms gebeur.
Bob Goff skryf “God doesn’t compete for our attention; He pursues us in love.” God speel nie saam in die aandag-ekonomie van die Vierde Industriële Rewolusie nie. God forseer homself nie in jou aandag-veld in nie. In Genesis se tuin-verhaal lees ons dat God saam met die mens kom stap. Jesus gebruik beelde soos die van ‘n goeie herder of ‘n wagtende pa of ‘n soekende vrou om te verduidelik hoe God na ons toe kom. Dis elke keer ‘n uitnodiging na iets anders – ‘n ander manier van kyk, luister, beleef. Dis ‘n ander soort ritme.
Lydenstyd is juis ‘n tyd waar ons bewus raak van die modderige dinge wat saam-koek om ons harte en gedagtes, die dinge waarvan ons verlossing nodig het. Ons sien ons menswees in die lig van Jesus se menswees.
Ons onthou dat God mens geword het om te deel in al ons mens-dinge, maar om ons daarvan te verlos.
Ons oefen ritmes van afgee in, soos om te vas, sodat ons doelbewus ons aandag op God kan plaas.
Ons oefen Sabbat in, deur doelbewus ons lewensritme aan te pas om daagliks na God uit die Bybel te luister, ten spyte van ‘n druk program en om weekliks op te hou werk en tyd saam met die gemeenskap van gelowiges te spandeer.
Om in hierdie tye te sien dat God se teenwoordigheid in ons lewens kom soos mosterdsaad en koringkorrels – op die oog af klein en onbenullig en slegs sigbaar wanneer ons ons aandag daaraan gee.
Mag die dinge wat jou aandag ontvang in Lydenstyd ‘n nuwe rewolusie ontketen. Mag liefde en vrede die kommoditeite word waarmee ons leef.
Groete
Christi




Comments