top of page

Gestuurdheid: Die rede vir ons bestaan

Jul 31
2 min read

Baie welkom by die derde kwartaal in Kenridge gemeente. Oudergewoonte vier ons gedurende hierdie tyd ons gemeente se gestuurdheid en ons noem dit: Uitreikkwartaal. Die fokus val op al die verskeie uitreikaksies waarby ons, as gemeente, betrokke is. Ons vier hul suksesse, ons wonder saam oor hul uitdagings en ons word opnuut geïnspireer om ’n verskil te maak in ons omgewing, in ons stad en in ons land. En ons herinner onsself weer daaraan dat 'n gemeente wat nie gestuurd lewe nie, vergeet stadigaan hoekom sy bestaan.


Die hele Bybel is 'n sendingstorie. Die Vader stuur die Seun, die Seun stuur die Heilige Gees, en die Drie-enige God stuur die kerk. Jesus sê dit self baie duidelik: "Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook." (Johannes 20:21) Daarom kan ons nooit 'n klub wees, wat mense nooi om in te kom nie, ons is 'n gemeenskap wat uitgestuur word. Dis ons identiteit.


Onthou, Jesus se laaste woorde was nie ’n voorstel nie, maar ’n opdrag: "Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies... en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het." (Matteus 28:19-20). Mense wat hulself “volgelinge van Jesus” wil noem, kan nie hierdie belangrike deel van die evangelie verontagsaam nie.,


Ironies genoeg, is dit juis gestuurdheid wat ’n gemeente geestelik gesond hou. Gemeentes wat net na binne leef, word selfgesentreerd, moeg en begin oor allerhande klein nietighede stry. 'n Gemeente wat na buite leef, bly afhanklik van die Heilige Gees, bly in gebed, en bly opgewonde oor wat God in ons omgewing doen.


Daarom, by ons in Kenridge gemeente, is uitreik nie 'n program wat ons byvoeg as ons tyd of surplus fondse het nie. Dit is die rede hoekom ons hier is. Dit is die rede vir ons bestaan. So kom deel in uitreikkwartaal en mag die Here jou stuur.

Comments


bottom of page