top of page

As jy swaarkry moet jy lofliedere sing!


ree

My pa was ‘n baie toegewyde gelowige wat, na my oordeel, maklik in die gallery van geloofshelde van Hebreërs 11 gelys sou kon word. Daar is veral een eienskap van hom wat ek altyd sal onthou. Hy het altyd loop en sing. Vrolike liedere – lofliedere. Ek wens ek was soos hy. Want die Bybel moedig ons op talle plekke aan dat ons eintlik nooit moet ophou sing nie. Ons moet die Here se lof oral en altyd besing. Dawid skryf: “Van waar die son opkom tot waar dit ondergaan, moet die naam van die Here geprys word.” (Psalm 113:3 NLV). Ook wanneer dit vir ons voel dat ons het geen rede om te sing nie, moet ons juis sing. In Handelinge lees ons dat Paulus en Silas in die maksimum sekuriteit van ‘n tronk in Filippi aangehou is. Vroeër die dag was hulle met stokke geslaan en hulle klere van hulle lywe afgeskeur. Hulle sit bebloed en gekneus in swaar voetboeie in ‘n donker tronksel. Dan vertel die skrywer ons in Hand 16:25 hoe hulle, strydig met hulle omstandighede, lofliedere sing. “Teen middernag het Paulus en Silas tot God begin bid. Hulle het ook lofliedere tot sy eer gesing. Die ander gevangenes was verstom hieroor. Doodstil het almal na hulle geluister.” In hopelose omstandighede bid en sing hulle. Hulle sing nie klaagliedere nie, maar lofliedere. Dan gebeur wonderwerke. Die aarde bewe, hulle boeie val af en die swaar gegrendelde tronkdeure swaai oop. Skielik is hulle vry. En lees ons die verhaal verder sien ons ‘n radikale skuif. Hulle was magtelose slagoffers van hulle omstandighede en skielik is hulle in beheer van die tronksituasie. Die uiteinde is dat die stadsbestuur hulle om verskoning vra vir die slegte behandeling en hulle uit die stad begelei. Ek hoor ‘n paar kritiese waarhede in hierdie verhaal:

  • Lofprysing nooi God in hopelose situasies in sodat Hy lig in die donker kan bring.

  • Wanneer God se kinders in hopelose omstandighede Sy lof besing, raak ander mense doodstil en luister met respek en afwagting na ons soos daardie nag in Filippi.

  • Lofprysing trek ons uit die donker sel van hopeloosheid na waardigheid en hoop.

Daar is baie kore wat opgaan in Suid-Afrika oor die hopeloosheid van ons omstandighede. Ons is geneig om saam te kerm en kla en gal te braak oor alles wat verkeerd en hopeloos is. Dit maak ons gevangenes van ‘n donker gemoed. Kom ons maak dit ‘n leefwyse om God te prys onder alle omstandighede. Kom oefen saam met ons, om God te prys in ons eredienste elke Sondag. Vrede Willem Kliek hier en sing saam met die 1.4 miljoen mense wat dit reeds op You Tube saamgesing het!

Comments


bottom of page