As Liefde
- bestuurder5
- Feb 8, 2024
- 3 min read

Eerskomende Woensdag is Valentynsdag EN As-Woensdag. Die komende naweek hanteer ons die derde stasie van Jesus se lewe in ons Connect reeks – die stasie van Jesus se lyding en sterwe – en al drie hierdie geleenthede is styf inmekaar geweef.
Valentynsdag is die viering van St. Valentinus. Hy was ‘n priester in die Derde Eeu, in ‘n tyd toe die Christelike geloof nog verbied was in die Romeinse Ryk. Valentinus het ten spyte daarvan dat hy gereeld gearresteer was, aangehou met sy bediening en spesifiek vervolgde Christene getrou. In daardie tyd kon Caesar Claudius enige ongetroude jong man oproep vir militêre diens en Christene was baie populêr hiervoor. Die groter gemeenskap het nie van Christene gehou nie, al was hulle baie goeie burgers. Om hulle dan weermag toe te stuur sou hulle eerstens uit die gemeenskap haal en tweedens maklik laat doodgaan.
Dit het vir Valentinus ‘n gemerkte man gemaak. Hy is in Rome gevange gehou en deur Caesar Claudius self ondervra. Valentinus het ‘n indruk op Claudius gemaak, tot hy vir Claudius probeer oortuig het om oor te gee aan Jesus. Valentinus was gewelddadig tereggestel in Rome. Kort voor sy dood het hy vir ‘n volgeling ‘n brief geskryf waarmee sy volgens Engelse bronne afgesluit het “Your Valentine” – wat waarskynlik aanleiding gee tot die romantiese konneksies van vandag.
Ek wonder wat Valentinus motiveer het om aan te gaan met sy bediening – al het dit op die ou end sy lewe gekos?
As-Woensdag is in die kerkjaar ons draaipunt na die kruis - die seisoen van Lydenstyd. Ons sluit die feestelikheid van Advent en Kersfees af. Ons skuif ons fokus van Jesus se wonderwerke en dinamiese aardse bediening na Jesus se lyding. Na Jesus se aankondiging van sy sterwe begin dit duideliker word dat mense nie hou van Jesus se eintlike agenda nie. Van duisende volgelinge na die vermeerdering van die brood, na mense wat begin kla dat Jesus se pad te veel is (Joh. 6) na sy dissipels wat hom heeltemal alleen los aan die kruis.
Die Evangelies van Jesus het elkeen ‘n draaipunt in hul storie - waar Jesus begin bekendmaak dat hy moet doodgaan, dat hy sy krag oor elke aardse mag en krag op hierdie manier moet uitoefen. In Matteus (16:21-26), Markus (8:31-9:1) en Lukas (9:22-27), kom dit na Jesus se opdrag dat sy dissipels hul kruis moet opneem om hom te volg en moet sterf aan hulself. In Johannes (12) kom dit wanneer Jesus sê hy is die gaan soos ‘n koringkorrel in die grond val en sterf en dat sy ware dissipels ook soos hy sal wees.
In ‘n sekere opsig was Jesus se bediening ‘n oefening in mislukking. Maar dis wat Jesus wou wys met sy lyding en sterwe.
Liefde – ware liefde – lê in doodgaan. Jesus sê “As jy regtig jou liefde wil ‘toets’, toets dit hieraan: liefde beteken om bereid te wees om doodgemaak te word ter wille van jou vriende...” (Joh. 15:13 – Die Boodskap). Ware liefde is nie populêr nie; nie gemaklik nie. Dit kos baie. Eintlik meer - dit kos alles.
As-Woensdag is die drumpel waaroor ons saam met Jesus stap om bietjie vir bietjie dood te gaan aan die dinge wat tussen ons en ander, maar ook ons en Jesus staan. Ons gaan dood aan die dinge waar ek my eie agenda hoër stel as my lewe met Jesus of ten koste van verhoudings met my naaste bevorder. In sommige tradisies is dit ‘n tyd van vas – waar ek ‘n alledaagse luuksheid opoffer sodat wanneer ek daai alledaagse ding wil hê of gebruik, dit my sal herinner daaraan om te sterf saam met Jesus, ter wille van verhouding met Jesus; ter wille van my vriende.
Mag Valentynsdag jou herinner aan ware liefde.
Mag As-Woensdag jou herinner dat ware liefde beteken om te sterwe.
Mag jy Jesus se liefde raaksien in lyding en sterwe.




Comments