top of page

Bid met goeie maniere



ree

Ek het al vantevore in ʼn erediens die komedie-predikante “The Skit Guys” se video oor gebed gewys. (Gaan kyk gerus by https://www.youtube.com/watch?v=UmL_GTKU2lE as jy paar minute het.) Daar beeld hulle so 'n paar stereotipe bidders uit en in besonder die “Victorian” – wat vir God met mooi woorde en indrukwekkende stem intonasie wil beïndruk. As ek die “Victorian” sien, dan sien ek in baie gevalle hoe mense nie hardop voor ander wil bid nie, moontlik omdat hulle dink dat hulle mooi woorde en indrukwekkende stemme moet hê.


Dit laat my ook wonder hoeveel mense bid slegs met goeie maniere. Met ander woorde, dat wanneer ons deur die “Ons Vader” lees en by “Laat U Naam geheilig word” kom, geleer is dat God se naam heilig is. Heilig beteken groot, belangrik en eenkant, baie soos daardie eetgerei en tafeldoeke wat ons net mag gebruik as spesiale gaste kom eet.


Bid met goeie maniere:


Jy moet met God praat en vir God vertel hoe goed, groot en fantasties God is.


Jy moet vir God goed vra, maar net nie vir iets anders as wat jy regtig nodig het nie.


Jy moet jou versoeke uitbalanseer met dankies.


Jy moet jou gebede reg begin met genoeg erkenning en lofprysing en danksegging voor jy versoeke mag bring en dan moet jy weer die sirkel toemaak met genoeg erkenning, lofprysing en danksegging en dit bid “nie uit verdienste nie, maar alleen uit genade. Amen.”


En so word ons gebede soms kragteloos...


Sondag hanteer ons Habakuk 1 en hy spring weg met ʼn uitskel-gebed. Die eerste woorde wat Habakuk sê is “Hoe lank nog... moet ek kla?” Stephan Joubert verduidelik dat Habakuk se rou en growwe vuis-in-die-lug gebed vir ons toestemming gee om eerlik met God in gebed te kan wees – hy weet in elk geval wat jy regtig dink en voel. Die Evangelie-skrywers sê keer op keer dat Jesus die bedoeling van die mense se harte geken het, wanneer hulle met vrae na hom toe gekom het.


Ek wonder of God dalk baie keer stilbly vir ons goeie-maniere-gebede, sodat ons weer kan probeer en regtig eerlik met God kan wees?


Brené Brown* vertel dat dapper mense ook eerlike en brose mense is. Sy vertel dat die proses van dapperheid baie gebed insluit en dis allesbehalwe goeie-maniere-gebede. Sy skryf:

“I’ve spent my entire career sitting across from people, listening to them tell me about the hardest and most painful moments of their lives. After fifteen years of this work, I can confidently say that stories of pain and courage almost always include two things: praying and cussing. Sometimes at the exact same time.”


Ons goeie-maniere-gebede word beroof van krag, want ek vermoed dat ons dan eintlik met ongeloof bid. Wanneer ons God wil beïndruk met ons goeie-maniere-gebede, is dit juis vanuit ʼn geloof dat God net luister na mense wat reg bid en dit hou dan nie meer rekening met God se kragtige liefde en genade nie. Dit hou in der waarheid dan ook nie meer rekening met God se heiligheid nie, want heiligheid beteken juis dat God anders is as die gewone gang van die lewe. God is nie ʼn superster sportman of sanger of akteur of politikus of skoolhoof of populêre kind vir wie ons eers moet beïndruk voor ons God se aandag kan kry nie. God is anders as dit – in ou Afrikaans – God is gans anders!


Mag jy in week 2 van ons 40 Dae gebedsreeks ervaar dat God jou verkies net soos jy is. Mag jy ervaar dat God se heiligheid ‘n veilige ruimte vir jou eerlikheid is. Mag jy onbevange en met vryheid voor God staan en bid. Mag jy beleef dat die heilige, anderse God jou ten volle raaksien, hoor en liefhet.


Groete

Christi

Comments


bottom of page