top of page

Bloed red lewens.


Mark 15: 39 - “Toe die offisier, wat reg voor Jesus gestaan het, Hom die laaste asem só sien uitblaas het, het hy gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.” In die aanloop tot die Paasnaweek reël die SA Nasionale Bloedoortappingsdiens oral klinieke waar mense bloed kan skenk. Vanweë verkeersdrukte en ‘n styging in die getal motorongelukke is daar ‘n groter aanvraag vir bloed om mense se lewens te red. Op ‘n ironiese, vreemde manier is die slagspreuk van die Bloeddiens dat bloed lewens red, in wese ook die boodskap van die Paasnaweek en dit is dat Jesus se bloed lewens red. Dis betekenisvol dat die eerste persoon wat oombliklik by Jesus se kruisdood deur sy bloed gered is, ‘n Romeinse offisier was. In die Apokriewe Evangelie van Nicodemus word na hierdie anonieme soldaat as Longinus verwys. Volgens oorlewering was hy die soldaat wat die spies in Jesus se sy gesteek het om sy dood te bevestig. In die legende word vertel dat druppels bloed uit Jesus se liggaam in sy oë geval het. Longinus was ‘n gesiggestremde en toe die bloed van Jesus in sy oë geval het, het dit hom genees en kon hy helder sien. Figuurlik gesproke het dit ook die “skille” van sy oë laat afval sodat hy vir Jesus kon “sien” vir wie Hy regtig was: nie ‘n misdadiger nie, nie ‘n politieke aktivis nie maar die Verlosser van die wêreld - die Seun van God! Of Longinus se verhaal feit of bloot legende is, is nie belangrik nie. Wat wel belangrik is, is dat dit ‘n Bybelse kernwaarheid is dat ons so deur die sonde verblind word dat ons Jesus nie kan herken en erken vir wie Hy is nie. Ons het die kruisiging en die bloed nodig om ons van ons geestelike blindheid te genees. Dis hoekom ons herdenking van die kruisiging op Goeie Vrydag so belangrik is. Paasnaweek is in ons kultuur ‘n lekker langnaweek en ‘n prima wegbreektyd. Waar jy jou vanjaar ookal mag bevind, soek ‘n kerk en vier die lewe wat Jesus se bloed bring op Goeie Vrydag saam met ander gelowiges. Vier Paassondag veral ook fees oor Sy opstanding, want sê 1 Kor 15:14 “...as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud.” Geseënde Paasfees. Willem



5 views

Recent Posts

See All
bottom of page