Blydenuus van geloof
- bestuurder5
- Apr 20, 2023
- 2 min read

Ek glo in God die Vader, die Almagtige Maker,
van alles in die hemel en alles op die aarde.
Ek glo in hierdie Vader met die wondernaam: “Ek is wat Ek is,” werkwoordelik onvoltooid, voortdurend God. Ek glo in hierdie Vader van wie Moses slegs die rug kon sien toe hy gevra het: “Wys my U gesig.” Ek glo in hierdie Vader, die God wat Liefde is, en ons na hierdie aard gevorm het tot vlees uit stof, en dit gevul het met Sy Gees sodat ons uit gewone mensesaad mense na Sy beeld kan maak: om hiérin onsself te wees - om lief te hê sonder vrees. Ek glo in hierdie Vader wat Hom geopenbaar het in Sy Seun, die Mens wat tussen ons kom woon het as die Waarheid teen die Leuen: “Sien dan dié Mens! – die geheim van My gesig.” Ek glo in hierdie Seun, die Timmerman van Nasaret, wat gekom het en kom om ons te ken: elkeen na sy naam -
in die fynheid en die grofheid van sy grein, en in die jaarringe van sy pyn. Ek glo in Jesus Christus, die Mens na God se hart, wat God se wil gekies het om deur die haat en klein begrip van mense ’n doringkroon te dra, en van God geskei te word in die Godverlatenheid van Golgota –
die doderyk deurgrond het, en opgestaan het,
dat ons onvervreem van God verby die dood ewig vry kan lewe. Ek glo in hierdie Jesus wat opgevaar het na die Vader en vandaar die sagte oordeel bring omdat Hy nader aan my is as wat ek aan myself is; my kern ken, verby die vel tot in die chemie van die sel; wat weet hoe diep my blindheid is en my vashou – styf teen die braille van Sy lyf. Ek glo in die Heilige Gees, die Wind van God, wat oor die leegheid van my lewe waai en die koers bepaal - weg van myself, weg van Tarsis, na die nood in Ninevé. Ek glo aan die kerk wat uit Christus groeitot nuwe skeppingswerk; om alle mense met geloof en hoop en liefde te verbind aan die Koninkryk van God se Kind. Ek glo aan die gemeenskap van stukkende sondaars wat kniel voor die Heiligheid van God. Ek glo aan die vergiffenis: dat Genade altyd groter is
as my sonde en my geskiedenis. Ek glo aan die heropstanding van die liggaam,want ek glo in Christus. Ek glo aan die ewige lewe wat hier begin en ná die dood die blydenuus bly sing.
Outeur: Wilhelm Jordaan




Comments