Daar is krag in wag!
- Kenridge Gemeente

- Feb 18, 2022
- 2 min read

Een van die goed wat die Here vir Habakuk in hoofstuk 2 gesê het, is: ‘Jy moet net geduldig bly wag.’ Eish! Wat ‘n aaklige opdrag? ‘n Mens wil amper sê: Nee dankie! Nie vir my nie!
Die meeste van ons se emosies styg verby kookpunt as ons vir goed moet wag. En ons vlakke van lewenslus daal tot onderkant vriespunt as die uitkoms van dit waarvoor ons gewag het, teleurstel.
Om op die Here te wag, is iets heeltemal anders as om vir ‘n nuwe paspoort by Binnelandse Sake of ‘n smart watch van Takealot af te wag.
Die Bybelse opdrag om te wag op die Here beteken nie om verveeld op ‘n eensame plek met jouself opgeskeep te sit en vingers vleg tot die wederkoms eendag aanbreek nie. Dit het ook niks met luiheid te doen nie.
Tekste soos Psalm 27 wat sê: ‘Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here!‘ – wil jou neem na betekenisvolle plekke van rustige luier saam met die Here, verwondering en luister met al jou sintuie. Dit wil jou neem na spasies waarin jy uitsien na …
‘n lewenslange proses van inoefening om aan die Here te bly oorgee
‘n sagte omskakeling na God as jou hoofkarakter in plaas van jouself
‘n reis saam met die Here waartydens Hy Jesus se karakter op jou lewe afdruk
‘n diep begeerte dat die eerste klompie bedes van die Onse Vader jou lewe sal kenmerk en dat dit heeltemal oor sy koninkryk, sy Naam en sy wil sal gaan in jou lewe
‘n gebedslewe wat minder dinge vir jouself vra en vir meer dinge dankie sê.
‘n Amerikaanse predikant en skrywer van die vroeg 1900’s, Warren Wiersbe het gesê: “The ability to calm your soul and wait before God is one of the most difficult things in the Christian life. Our old nature is restless ... the world around us is frantically in a hurry. But a restless heart usually leads to a reckless life.” Ek wonder wat sou Wiersbe in 2022 oor die spoed van lewe gesê het? Dit lyk vir my baie slim om nie roekeloos te wees en te gejaagd te leef om nie kuiertyd saam met die Here in jou skedules in te bou nie.
John Ortberg skryf dat die kuns om geduldig op die Here te wag in die eerste plek ‘n daad van gehoorsaamheid aan Hom is. En dalk moet ons Jesaja se raad ernstig opneem. Hy skryf dat mense wat op die Here wag, nuwe krag by Hom sal kry.
Luister gerus Sondag saam na al die predikers en groepleiers hieroor in al die verskillende lokale en op YouTube.
Lekker naweek verder!
Dave




Comments