top of page
bestuurder5

Dankbaarheid

Hoe gereeld kla jy? Nee regtig, dink gou daaroor:

Hoe gereeld complain jy oor iets? Selfs oor iets klein…

 

As ek aan myself dink, kan ek amper nie eers ‘n regte antwoord op hierdie vraag gee nie, want ek kla eintlik so baie dat ek kom dikwels nie eers meer agter wanneer ek dit doen nie.

 

En dan ‘n volgende vraag: hoe gereeld praat jy hardop oor die dinge waarvoor jy dankbaar is?

 

Mmm… waarskynlik nie naastenby so baie soos wat jy kla nie, reg?

Dit wil vir my voorkom dat dit vir ons baie makliker is om te kla as om dankbaar te wees.

 

Maar die ironie is, wat maak ‘n mens gelukkiger? Voel jy beter as jy kla of voel jy beter wanneer jy dankbaar is? Ek weet ék voel baie gelukkiger wanneer ek dankbaar is; eintlik maak mens dit vir jouself moeilik om gelukkig te wees wanneer jy loop en kla.

 

Wanneer ek egter met my fiets ry in die Tygerbergheuwels en dis ‘n mooi dag en ek is buite in die natuur en ek sê dan: “dankie Here vir die voorreg om hier in hierdie omgewing te kan woon en hier te kan fietsry. Dankie dat ek ‘n fiets kan besit en gesond genoeg is om dit te kan trap.” Dít laat ‘n mens ongelooflik goed voel en dít maak jou gelukkig.

 

Jy sal self weet wat die dinge in jou lewe is waarvoor jy dankbaar kan wees. En hoe meer jy hardop vir die Here daarvoor dankie sê, hoe beter gaan jy voel en hoe gelukkiger gaan jy wees, omdat dit is die houding waarmee die Here wil hê ons deur die lewe moet reis.

 

Ons heersende wêreldkultuur skryf vir ons slagspreuke voor soos “jy is dit werd”, “jy verdien dit”, “dit kom jou toe”, “dit is jou reg”. Hierdie manier van dink help ons beslis nie om dankbaar te leef nie. Dit laat ons eerder voel dat ons geregtig is op sekere dinge en dat ons verontreg word wanneer ons dit nie kry nie of wanneer dinge vir ons skeef loop. En dis dán dat die klaery begin.

 

In skrille kontras hiermee het Paulus, terwyl hy onregverdig in die tronk was, terwyl hy van sy familie en sy vriende afgesny was, terwyl hy nie geweet of die voetstappe wat hy in die gang hoor die wagte is wat kom om hom tereg te stel nie, terwyl hy kettings en boeie moes verduur:

 

“Sê altyd in die Naam van ons Here Jesus Christus vir God die Vader dankie vir alle dinge.”

(Efesiërs 5:20 – NLV)

 

Mag ons by Paulus leer wat dit beteken om in alle omstandighede met dankbaarheid te lewe.

5 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page