top of page

Die ‘gist’ van Lydenstyd is …


In die dae van Lydenstyd tot en met die 15de April is dit ‘n goeie idee om in jou daaglikse Bybellees die 4 Evangelies se vertelling oor Jesus se kruisiging en sterwe deur te lees. Só ‘n gefokusde lees herinner ons aan die kern en basis van ons geloof: Christus verlos ons van sonde en die dood en gee aan ons die lewe. In Luk.23:39-43 vertel Lukas hoe een van die misdadigers wat saam met Jesus gekruisig is Hom uitdaag om te bewys dat Hy die gestuurde Verlosser van God is. “Red jouself en ons ook!”, tart hy vir Jesus. Die ander misdadiger op Golgota verklaar egter in sy laaste oomblikke: “Ons ontvang die verdiende straf vir ons sonde. Maar hiérdie man het níks verkeerds gedoen nie.” En dan sê hy pleitend vir Jesus: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” Dalk het hy iewers in sy roekelose omswerwinge in ‘n skare gestaan en gehoor toe Jesus sê: “Ek het nie gekom om mense wat op die regte pad is, tot bekering te roep nie, maar sondaars.” (Luk.5:32) En nou – op Golgota - sterwend onder die doodse las van die mensdom se sonde, soek en red Jesus stééds dié wat in hul sonde en boosheid vasgeval het. Saam met misdadigers sterf Hy die dood van die uitgeworpene uit die samelewing. Maar juis deur hierdie veragtelike vorm van sterwe maak Hy die deur oop vir diegene wat aan Hom vasgryp in hul desperate wanhoop. “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” (23:43) Lewe in die aangesig van die dood. ‘n Deurgang uit ‘n doodloopstraat. Vrede wat alle verstand te bowe gaan. Vryspraak, genade, verlossing. Elke stukkie Bybellees in die Lydenstyd, elke boodskap in die Groot Lydensweek, elke oomblik van nadenke oor Jesus se offerdood is nie bedoel om gelowiges swaarmoedig of donker of bedruk te laat voel nie, maar om hulle te vul met ‘n diepe dankbaarheid en oneindige blydskap. Want ons skuld is weggeneem; ons is vry verklaar; ons kan núút lewe. En op grond van wat óns van Jesus ontvang het, kan ons ánder vryspreek en nuut laat lewe. Dit is dalk jou ouers, of jou kinders, of jou broer of suster, of jou gewese man of vrou wat jy moet vrylaat van jou beskuldigings. Of dalk dié een wat jou verontreg het en diep verwond het. Dit is regtig nie maklik of eenvoudig nie – ek wéét. Maar ek en jy kán dit doen, omdat óns vergewe is, en vrygemaak is, en núút kan lewe. Vriende, die diepte en omvang van die betekenis van Lydenstyd is ondeurgrondelik. Dink ‘n bietjie verder en dieper as die voor-die-hand-liggende in hierdie paar weke. Die Here Jesus verras jou dalk deur sy Gees met insigte wat jou lewe oop en mooi maak. Groete tot later. Jurie

15 views

Recent Posts

See All
bottom of page