Die vreemde en die vreemdeling
- Kenridge Gemeente

- Aug 26, 2022
- 3 min read

Die woord “gasvryheid” bestaan uit ‘n samestelling van twee Griekse woorde, naamlik “philo” wat liefde beteken en “xenia” wat vreemdeling beteken. Gasvryheid is ‘n liefde vir vreemdelinge. Om gasvry te wees vra goedgesindheid en dit vra ook om hierdie goedgesindheid met woord en daad aan die vreemde en die vreemdeling oor te dra. Gasvryheid is een van die mees basiese genadegawes vir die Christelike lewe. Dit is onontbeerlik vir die Christen se bestaan. Dit dien as ‘n geleentheid vir die verheerliking en vooruitgang van God se koninkryk… Een van vele verhale in die Bybel wat handel oor die tema “gasvryheid” het my hierdie week diep getref. Hierdie verhaal word in 1 Konings 17 vervat. Dit is die verhaal van die weduwee van Sarfat. Sarfat was ‘n klein kusdorpie tussen Tirus en Sidon in ‘n Filistynse gebied. Later het hierdie gebied ‘n belangrike pelgrimsrusplek geword vir Christen reisigers in die 4de eeu n.C. Terwyl ek hierdie verhaal van die weduwee, wat aan die hoogste eis van gasvryheid voldoen het, gelees het, het ek gepoog om myself in haar situasie te plaas. Ek het binne hierdie boek van die Bybel ingeklim en in Sarfat se stof gaan staan… Dit is droog en dor. Mense en diere is besig om te versmag. Daar is nood, hongersnood, en dood. Dit is swaar om ‘n weduwee te wees. Weduwees was die armste groepe binne gemeenskappe. Hierdie weduwee was maer, moeg en tam. Hierdie weduwee het van die hand na die mond geleef. Ons lees dat sy stukkies hout by die stadspoort opgetel het om die laaste maaltyd van brood vir haar en haar seun voor te berei. Hierdie vrou het nie net aan die einde van haar hulpbronne gekom nie, maar ook aan die einde van haarself gekom. Sy, en haar seun, sou sterf. Elia vra vir hierdie weduwee vir water en vir brood toe hy haar teëkom. Water was ‘n onredelike versoek aangesien dit ‘n tyd van droogte was. Verder was Elia se versoek vir kos van iemand wat baie karig leef ewe onbillik. (Interessant: Elia was ‘n Tisbiet. Toevallig beteken die woord “Tisbiet” vreemdeling…) Aanvanklik vra Elia, asook die Here, van hierdie arm vrou om alles wat sy het, op te gee en weg te gee. Tegelykertyd ontvang sy egter ‘n belofte uit die profeet se mond: sy hoef haar nie te bekommer nie. Die Here sou gebied dat die meel nie sal opraak nie, en dat die olie nie sal minder word nie. Toe ek hierdie teksgedeelte lees, en weer lees, en nóg ‘n keer lees, het ek bewus geword van die baie woorde wat op die duidelike “min” wat hierdie weduwee gehad het, dui: “’n bietjie water,” “’n stukkie brood,” “‘n bietjie olie,” “’n handvol meel,” “’n paar houtjies.” Hierdie vrou het minder as die minimum gehad. Sy en haar seun het van die laaste skraapsels geleef. Hierdie vrou besluit om op die Here te vertrou. Sy was van die Here se beloftes oortuig en sy het gedoen wat Elia van haar gevra het – wat die Here van haar gevra het. Dit was ‘n daad van uiterste gehoorsaamheid. Dit was ‘n daad van uiterste GASVRYHEID. Deur haar gehoorsaamheid en deur haar gasvryheid versorg en voorsien God vir haar, vir haar seun, en vir Elia: "Van toe af het hulle genoeg gehad om te eet, hy en sy en haar gesin. Die meel in die kruik het nie opgeraak nie, en die olie in die kan het nie minder geword nie, soos die Here deur Elia beloof het." (1 Konings 17: 15 – 16) Hierdie vrou se storie versorg tot vandag toe nog vir ons as lesers. Haar brood en haar olie voer en voed ons ook. Haar gehoorsaamheid en haar gasvryheid spoor ons aan en inspireer ons om in die Sarfats van ons eie tyd ook met brood en water te staan. Hy sal sorg. Hy maak van min, baie. Die verhaal van hierdie weduwee eggo in die woorde van Christus wat onderstreep dat hierdie gehoorsaamheid en gasvryheid nie ongesiens verbygaan nie: "Wie 'n profeet ontvang omdat hy 'n profeet is, sal die beloning van 'n profeet ontvang. En wie aan een van hierdie geringes 'n beker koue water gee om te drink, bloot omdat hy 'n dissipel is - Amen, Ek sê vir julle: Hy sal beslis nie sy beloning verbeur nie." (Matteus 10:41 - 42). Hierdie weduwee het haar daarop voorberei om te sterf. Toe bring God Lewe. Deur gehoorsaam en gasvry te wees, het God haar gered. Gasvryheid red lewens - ons eie én ander se lewens! Groete Melinda




Comments