Dinge gebeur in drieë (of meer)
- bestuurder5
- Apr 13, 2023
- 2 min read

Gansbaai Courant se verslaggewer het in 2017 berig dat 'dinge mos in drieë gebeur' nadat (1) die Haarsalon byna verwoes is omdat die Junction se dak afgewaai het, (2) 'n ou veroordeelde met gesteelde klere by Cee Sport & Surf weggekom het en (3) sekuriteitswagte aan 'n steierwerk vasgebind is terwyl die booswigte by die Wimpy ingebreek en baie gesteel het. Onder sekere perdeboere leef daar 'n wysheid dat niemand 'n gesoute ruiter kan wees voordat hulle nie eers driemaal van 'n perd afgeval het nie. 'n Soortgelyke uitdrukking lui: 'Die derde keer is skeepsreg.' Lesers kom baiemaal in die Bybel die syfer drie teë. Met die Paasgebeure ook:
Die Here is Drie maar eintlik Een. Hy is Vader, Seun en Heilige Gees.
Jesus het op die derde dag opgestaan uit die dood soos wat Jona drie dae in die groot vis se maag was.
Jesus het drie keer aan sy dissipels verskyn nadat Hy uit die dood opgestaan het (Johannes 21:14).
Elia het driemaal oor die weduwee van Sarfat se seun gaan lê en hom gesond gebid (1 Konings 17:21).
Die Here het vir Samuel driemaal geroep voordat hy agtergekom het dit is nie Eli wat hom roep nie (1 Samuel 3).
Jesus se Paasgebeure het ook op kritieke oomblikke sy medelye, sy genade en sy bomenslike vergifnis in sarsies van drie laat weergalm:
Jesus het by Getsemané driemaal die dissipels gesmeek om saam met Hom te bid. Hulle het Hom driemaal teleurgestel. Hy het driemaal vir hulle gaan vra: “Slaap en rus julle nog?"
Petrus het driemaal gelieg, selfs hoog-en-laag gesweer dat Hy nie vir Jesus ken nie. Daarna het die haan gekraai en Petrus het besef wat hy aangevang het.
Jesus het na sy opstanding by Galilea driemaal vir Petrus gevra of hy Hom liefhet. Hierna het Petrus verstaan waarmee Jesus besig was en sy duidelike opdrag gekry om met net soveel liefde vir al Jesus se lammers en sy skape te gaan sorg.
Eintlik weergalm Jesus se liefde nie in sarsies van drie nie maar in kolonne van miljoene der miljoene veelvoude van drie oor milleniums der milleniums. Sy liefde is onberekenbaar diep, ontelbaar baie en dit werk soos wat Jesus se dissipel van liefde verduidelik het: 'Groter liefde as dit het niemand nie, dat iemand sy lewe aflê vir sy vriende (Johannes 15:13).'
Die indrukwekkende feit is dat Jesus dit vir sy vyande ook gedoen het. Johannes het ook gesê: 'Hieraan ken ons die liefde: dat Hy vir ons sy lewe afgelê het. Ook ons behoort ons lewe vir ons broers af te lê (1 Johannes 3:16).'
Op hierdie liefdevolle noot daag ek jou uit om vir iemand wat jy nie ken nie een van jou gunsteling sjokolades te gee as 'n geskenk wat herinner aan Paasfees.




Comments