Doen dit vandag nog!
- bestuurder5
- Jan 19, 2024
- 3 min read

Die hartseer nuus van die drie tienerseuns wat in 'n tragiese motorongeluk naby Lephalale dood is, het ons almal diep geraak. Hulle was 16 jaar oud en deel van 'n groep seuns wat aan die Kalahari Vasbyt deelgeneem het. Hulle was per motor oppad na Johannesburg waarvandaan hulle Kaap toe sou vlieg. Sulke tragedies raak mens diep. Dit laat jou met diepe deernis bid vir die Here se troos en genade vir elke ouer en familielid. Dit laat mens diep nadink oor die lewe en ons broosheid as mense - veral as jongmense sterf ...
Ons almal is vol planne vir 2024 wat voor ons uitgestrek lê. Jakobus herinner ons in Jak 4:13-15 - "15Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en 'n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.” 14Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar 'n damp wat 'n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. 15Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.”
Ons aanvaar môre en die res van 2024 as 'n gegewe. Jakobus herinner ons aan die teendeel. Ons lewens is nié so seker nie. Daarom moet ons nie uitstel om belangrike dinge vandag te doen nie. 20-25% van die algemene bevolking word volgens sielkundige navorsing as chroniese "uitstellers" geklassifiseer. 50% van die bevolking is geneig om van tyd tot tyd belangrike goed in hulle lewe uit te stel. Studente staan voor in die ry as dit by uitstel kom: 85% stel uit om betyds te begin swot of om take en verhandelings betyds in te handig!
Op my reis deur die lewe het ek baie mense ontmoet wat aan die “uitstel-siekte” ly. Hulle is verslaaf aan die adrenalien van krisisbestuur. Baie mense beweer dat hulle onder druk baie beter presteer en hulle kies doelbewus om konstant onder druk te funksioneer. Ek het dit ook geglo maar hoe ouer ek word hoe meer raak ek van die teendeel bewus. Vir lank in my lewe het ek dit as verskoning vir swak dissipline gebruik.
Gelukkig is uitstel nie ‘n ongeneeslike kwaal nie. Met ‘n paar doelgerigte besluite en deursettingsvermoë, kán ‘n mens verander. Soms is dit ‘n persoonlikheids-ding en moeilik om te verander. Ander kere is dit gewoon ‘n slordige leefwyse. So loop ons die gevaar om kritiese besluite uit te stel en in die proses geleenthede by ons te laat verbygaan. Ons sê spottenderwys – “eendag as ek groot is, sal ek dit of dat doen.” Die Bybel en die praktyk van die lewe leer ons dat ons in werklikheid geen sekerheid oor môre het nie. Môre is partykeer te laat.
David Meece sing – “Yesterday is gone, tomorrow may never come. Today is your once in a lifetime.” Dit help nie ons verknies ons oor die verlede en bekommer ons oor môre nie. Vandag is die kans van ‘n leeftyd … gebruik dit!
Nadenke
· Watter gevolge het ‘n “op die nipper-leefstyl” vir jou en ander mense?
· Watter dinge is daar wat jy weet jy moet doen maar jy stel uit om dit te doen?
· Wat weerhou jou daarvan om C prioriteite bo A prioriteite te kies?
Gebed
Here my gee asseblief die wysheid om te weet wat ek vandag móét doen.




Comments