top of page

Ek en my groot mond


'n Mens se woorde kan jou maklik in 'n groot verleentheid laat beland. Jy loop 'n vriendin raak wat jy lanklaas gesien het en jy vra met opgewondenheid - "en wanneer kom die babatjie?" Intussen is sy nie swanger nie - sy het net 'n bietjie gewig aangesit! Eina... Of jy vra vir 'n vriend wie se pa ernstig siek was hoe dit nou met hom gaan...en terwyl jy dit vra onthou jy dat die oom al 'n paar maande gelede oorlede is! Dis só maklik om met woorde te struikel. In Jak 3:2 skryf Jakobus - "Ons struikel almal in baie opsigte. As iemand nooit struikel in wat hy sê nie, is hy volmaak..." En niemand van ons is volmaak nie!


Ons almal ken dit. Jy wens jy het 'n tong soos 'n verkleurmannetjie gehad waarmee jy jou woorde vinnig kon toevou, oprol en blitsvinnig insluk. Dis helaas nie moontlik nie. En nou maak die tyd waarin ons leef dit selfs makliker om te struikel. In die hitte van die oomblik reageer jy met kommentaar op sosiale media en almal in jou netwerk kan dit real time lees. Onmiddelik. Of jy tik 'n WhatsApp boodskap, druk die stuur knoppie en jy besef met 'n skok dis op die verkeerde groep! Of jy bedink jou oor die inhoud van die boodskap. Gelukkig is daar vandag die "delete for all" opsie - maar as jy jou fout eers 'n uur later agterkom, het die "delete for everyone" opsie verval - dan beteken dit - "wat jy geskrywe het, staan geskrywe."


Lees gerus weer Jakobus 3 in jou Bybel. Ons tonge is soos 'n klein vuurtjie wat 'n bos aan die brand kan steek! Vure rig skade aan, vernietig, maak dood. Dit gebeur in huwelike, vriendskappe, kollegaskappe, gemeenskappe, orals.


Jakobus gebruik onder andere ook die beeld van 'n fontein wat nie tegelyk brak en vars water kan lewer nie. Dis só teenstryding dat ons met dieselfde mond die Ons Vader gebed bid en net daarna vloek en skel ons. Toe ek onlangs uit frustrasie in die verkeer 'n ongeskikte bestuurder met kragwoorde skel, het ek skaam gekry want ek het besef dié woorde kom uit my binneste uit. Ek voer die stryd waarvan Paulus praat - die goeie wat ek wil - doen ek nie, maar die slegte kom sommer vanself. Gelukkig kon ek met berou en belydenis onmiddellik vrykom omdat ek 'n liefdevolle, geduldige Vader het. Maar die stryd duur voort, want geen mens is volmaak nie herinner Jakobus ons. Ek en jy ook nie.


Ons het nodig dat die vrug van die gees - liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing welig in ons harte groei om die onkruid van die vlees te verdring. Sagte woorde wat bou en nie breek nie moet onder druk uit ons binneste opkom en meer en meer deel word van ons woordeskat. Jakobus se praktiese raad is - "be quick to listen and slow to speak..." Daarvoor het ons baie genade nodig!


Gebed - Here help ons om ons woorde verantwoordelik te gebruik.

Amen.




9 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page