Ek glo in God die Vader, die Skepper van die hemel en die aarde, …
- Kenridge Gemeente

- Jul 29, 2022
- 3 min read

Die afgelope twee weke staan ‘n mens verstom oor die beeldmateriaal wat die James Webb ruimteteleskoop die wêreld instuur. Hierdie kragtigste ruimteteleskoop wat ooit ontwerp is, is besig om ‘n vroeër-onbereikbare en onkenbare heelal vir ons kenbaar te maak.
NASA se doelwit met hierdie teleskoop word soos volg verwoord: “To probe the cosmos to uncover the history of the universe from the Big Bang to alien planet formation and beyond.”
Byna onmiddellik is daar opnuut gevra: Is daar intelligente lewe ‘iewers daar buite’ waarvan ons nog nie weet nie? Is ons op aarde die enigste lewende wesens wat in ‘n verhouding met ‘n transendente wese bestaan (die Drie-Enige God soos ons dit bely)? Of is daar ander mense of wesens soos ons aan wie God Hom verbind het?
‘n Mens sou vanuit baie verskillende standpunte oor hierdie vrae kon redeneer, maar wanneer ons as gelowiges oor God, die skepping, die heelal en menslike lewe dink, bely ons dat die heelal die werk van God se hande is. Wat is en wat bestaan, het nie maar toevallig of spontaan tot stand gekom nie.
Ons gaan eerskomende Sondag en in die komende week nadink en gesels oor hierdie verhouding tussen God en sy skepping. As ‘n inleidende gedagte kan ons die volgende dalk probeer onthou:
God self en sy skeppingsdade is ondeurgrondelik en verhewe bo enige menslike begrip. Die enigste manier waarop ons oor God kan dink en praat, is om van metafore of simboliese taal gebruik te maak. Dit is wat die profeet Jeremia doen wanneer hy ‘n prentjie teken van ‘n pottebakker wat met klei besig is om ‘n artikel te skep (Jer.18:1-6). In hierdie prentjie moet ons die volgende raaksien:
Selfs as dit wil voorkom asof dit wat tot stand gebring word deur vernietiging bedreig word, begin die pottebakker met oneindige geduld en vaardigheid om die klei wéér te vorm om tot stand te bring wat in sy gedagtes reeds vorm aangeneem het. Die wêreld, én die mensdom, is dus in ‘n proses van wording en herskepping, en nie agteruitgang en vernietiging soos dit oënskynlik wil lyk nie. Dit is immers Gód wat aan die werk is, en nié ‘n feilbare mens nie.
As ons bely dat Gód aan die werk is, bely ons daarmee saam dat Hy die getroue en betroubare God is wat in liefde verbind bly aan sy handewerk. Die heelal, én ons, behoort aan God, en Hy sal ons nie prysgee of aan die kwaad of noodlot oorlaat nie.
Jer.18 help ons om te verstaan dat God nog nie klaar is met sy handewerk nie, en dus ook nie met my en jou nie. Ons is, net soos die skepping, ‘a work in progress’. En dit beteken dat daar vir ons ‘n toekoms is. Ek en my verhoudings, of ideale en drome het nie in ‘n doodloopstraat beland nie. My toekoms ontvou elke oomblik van elke dag vanuit die Here se hand en hart, en ek mag die nuutheid daarvan ontvang en leef, omdat Jesus Christus se opstanding uit die dood ‘n nuwe begin vir my waarborg.
Dit sal ongelooflik wees as die getuienis van die beeldmateriaal wat ons verder en verder laat terugkyk in die ontstaan van die skepping dit vir ons al duideliker begin wys dat ons maar mag bely: “Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde,…”
Of dalk kan ‘n mens eerder sê: Dit sal gelóóflik wees! Omdat ons bly vashou daaraan dat ons God en Vader deur Jesus Christus en deur sy Gees alles tot stand gebring het, en steeds vir alles sorg.
Ek vertrou dat hierdie kwartaal se gesprekke, boodskappe en nadenke vir jou en my groot waarde sal hê.
Tot ons weer gesels.
Jurie




Comments