Job en Jesus
- bestuurder5
- 26 minutes ago
- 2 min read

Jesus en Job se verhale wys twee van die baie kante van lyding. Albei is kosbare voorbeelde en lewensgetrou. Jesus bly altyd ons hoogste Voorbeeld en ons enigste Verlosser.
Job was ’n gewone mens wat alles verloor het. Hy het nie probeer voorgee dat alles reg is nie. Hy het gevra, gekla, geredeneer, geworstel en gely.
Partykeer was hy kwaad, ander kere moedeloos. Wat belangrik is, is dat hy nie sy pyn weggesteek het nie. Hy het dit, in sy seer, voor God gebring en voor sy vriende vir God bly kies.
Jesus se lyding was in ‘n ander liga, maar ook baie menslik. Hy het geweet wat gaan gebeur en Hy was bang maar sy Vader se wil en sy liefde vir alle mense het hom enduit geneem.
In die tuin voor sy kruisiging het Hy gevra dat die pyn by Hom moet verbygaan. Dit wys dat Hy nooit lyding ligtelik opgeneem het nie. Hy het deurentyd bly kies om te vertrou en gehoorsaam te bly, selfs deur die pyn en tot anderkant die dood.
Ons leer in hierdie twee verhale iets belangriks:
1. Dit is reg om vrae te vra wanneer ons ly. Soos Job hoef ons nie stil of sterk te probeer wees nie.
2. Lyding beteken nie God is afwesig nie. In albei verhale is God volledig teenwoordig, al voel dit nie so nie.
Daar is nie altyd eenvoudige antwoorde op vrae wat ons vra nie. Job kry nie volledige verduidelikings vir sy lyding nie.
Jesus se lewe wys dat lyding sin kan hê, selfs al verstaan ons dit nie.
In die praktyk beteken dit: Wanneer jy swaarkry, hoef jy nie voor te gee dat jy alles verstaan of dat jy dit goed hanteer nie. Jy kan eerlik wees oor jou seer, jou stukkendheid en jou lyding. En jy kan probeer om te bly vertrou - al is dit moeilik.
Lyding bly pynlik en kompleks. Hierdie verhale gee nie maklike oplossings nie, maar hulle wys dat jy nie alleen is in jou pyn en jou lyding nie en dat geloof plek het vir vrees, vir vrae en vir vertroue.




Comments