top of page

Gasvryheid


ree

Wanneer ons moderne, westerse mense praat van gasvryheid, dan bedoel ons gewoonlik daarmee om iemand te onthaal vir ‘n ete, ‘n geselligheid of ‘n kuiertjie. Bybelse gasvryheid beteken egter veel meer; dít is om die voorregte van ‘n bepaalde familie vir iemand, wat dit hoegenaamd nie verdien nie, aan te bied – veral vir dié wat kwesbaar is omdat hulle vreemdelinge is. Om te eet, is een van die voorregte van deel wees van ‘n familie. Ons kinders het die reg om ‘n ete elke dag te verwag, omdat hulle deel is van ons familie. Wanneer ons as ouers dus ‘n ete aan ons kinders voorsit, is dit nie barmhartigheid nie. Nee, ons is dit ons kinders verskuldig omdat hulle deel is van ons familie – hulle is geregtig op die ete. Hieruit leer ons iets van die karakter van Bybelse gasvryheid: gasvryheid is meer as net barmhartigheid; dit is om iemand vir ‘n kort periode in te nooi om te deel in die voorregte wat gewoonlik net vir jou familie gereserveer sou wees. Dit is om te identifiseer met buitestaanders en hulle binnekring-mense te maak. Dit is om voorregte toe te ken aan ander ten spyte van die verskille wat daar tussen julle mag wees. Is dit nie presies wat die Here vir ons gedoen het nie? Wie van ons is geregtig daarop om onsself kinders van die Here te kan noem? Aan wie van ons is die Here dit verskuldig om in ‘n verhouding met Hom te mag wees? Instinktief wil mens antwoord: “Nie één van ons nie!” Maar ironies genoeg is die korrekte antwoord: elkeen van ons! Alleen omdat God besluit het om Bybelse gasvryheid teenoor ons te bewys; om ons deel van sy familie te maak al was ons vreemdelinge; om ons in te nooi in sy binnekring en aan ons al die voorregte te gee wat sy familielede toekom; dit het hy deur die dood van Jesus Christus aan ‘n kruis gedoen. Gasvryheid begin by God, want dit is deel van karakter. Daarom is gasvryheid om buitestaanders te behandel soos binnekring-mense, omdat God elkeen van ons só behandel het. Maar maak Bybelse se gasvryheid nie die deur oop vir mense om uitgebuit te word en vir hul gasvryheid om misbruik te word nie? En het gaste nie ‘n verantwoordelikheid om dankbaar op te tree nie? Dit hang af van hoe jy jouself sien: as die gasheer of die gas. Ons is gasvry omdat God gasvry teenoor ons was. God het die mens in die skepping ingenooi, maar vanaf die begin was ons slegte, ondankbare gaste. Ons het die tuin van Eden opgemors en ons mors steeds vandag die skepping op. Ons skep konflik en maak oorlog en verwoes mekaar. Ons leef nie in dankbaarheid teenoor die Here nie en tog bly Hy die gasvrye Gasheer wat ons bly verwelkom ten spyte daarvan dat ons sulke slegte gaste is. So, hoe sien jy jouself? Is jy die goeie gasheer of die slegte gas? Dit is slegs wanneer jy jouself beskou as die goeie gasheer, wat jy kan wonder oor slegte gaste. Op die ou einde, is ons almal eintlik slegte gaste, maar die Here se genade is groot en wyd genoeg om dit te omvou en om ons in sy familie in te nooi. Mag jy hierdie week meer van God, die Goeie Gasheer, ontdek; mag jy meer van jouself, die genooide en geliefde gas, leer; en mag jy na die vreemdelinge in jou omgewing met ander oë kyk. Groete Johan

Comments


bottom of page