top of page

Gebed verander dinge


ree

Hab 3:17-19 - “Al sou die vyeboom nie bot nie... nogtans sal ek jubel...” Die Engelse uitdrukking - “prayer changes things” is welbekend. Dis natuurlik waar dat gebed dinge verander, maar gebed is baie meer as dit. In ons reis deur Habakuk die afgelope weke het ons ontdek dat God éérs die bidder verander en dan dinge verander volgens Sy wil en skedule. Stephan Joubert noem in een van sy Ekerk Goeie Nuus briewe dat gebed nie ‘n Google soektog met onmiddellike resultate is nie: “Wanneer mense na informasie oor enigiets of enigiemand soek, Google hulle dit sommer. Derduisende trefslae volg dan binne millisekondes. Wel, gebed is nie die hemelse teenvoeter vir Google, waar ons teen rekordspoed antwoorde moet kry op al ons vrae nie. Ons storm nie by die hemelse troonsaal in met die doel om elke keer daar weg te loop met ’n gebedverhoring binne ’n nuwe rekordtyd nie. Ons bid nie bloot net om te ontvang nie - ons bid heel eerste om God te verheerlik. Hy is ons hemelse Vader. Ons kom keer op keer nederig tot rus aan Sy voete.” Habakuk het ‘n ongelooflike transformasie ondergaan tussen hoofstuk een en hoofstuk drie van die Bybelboek. Hy begin as ‘n moedelose, klaende en verwytende bidder en eindig as ‘n entoesiastiese, juigende en jubelende bidder. Het sy “hoofstuk een gebed” dinge verander? Nee! Het sy omstandighede verander? Nee! Inteendeel - dinge het erger geraak. Habakuk self het verander. Hy het nuwe perspektief gekry om met hoop na dieselfde en selfs erger omstandighede te kyk. Die slegte omstandighede het selfs nie in sy leeftyd verander nie! Maar sy geduldige wag op die ingrype van God, sy swye én volgehou gesprek met God het hom sodanig verander dat hy ten spyte van hopelose omstandighede nogtans kon jubel en juig. Stephan se gevolgtrekking na alles is: “Ja, ons mag dinge van God vra, maar ons doen dit reg. Ons bid heel eerste om Sy naam te eer. Ons bid om Sy wil te laat gebeur. Ons bid om uitdrukking te gee aan ons liefde vir God. Daarom is ons gebede altyd deurdrenk met lof en aanbidding. Deur ons gebede ontdek ons algaande dat God ons genadig is op Sy eie terme en dat die grootste gebedsverhorings juis gebeur, wanneer ons Hom eer en aanbid.” Mag ons in SA en die wêreld vandag ook ten spyte van alles jubelende lofgebede bid. Lekker naweek. Willem

Comments


bottom of page