top of page

Gespreksgeleenthede oor Treur en Verlieshantering


‘n Inisiatief van die Pastorale Ondersteuningsdiens


“If life is a school, loss is a major part of the curriculum. We eventually lose everything we have, yet what ultimately matters can never be lost. If you truly want to grow as a person and learn, you should realize that the universe has enrolled you in the graduate program of life, called loss.”


Só skryf Dr Elisabeth Kübler-Ross, wêreldbekende skrywer en psigiater in die boek, Life Lessons, wat sy saam met David Kessler, ‘n sterwensbegeleidingspesialis, in 2000 gepubliseer het.


Omdat verliese deel van ons ervaring van die lewe is, is die reis waarop elkeen van ons gaan met ons verliese altyd méér as nét treur en hartseer en stukkendheid. Dit kan op ‘n paradoksale wyse ook groei bewerkstellig.


Ons is die afgelope twee jaar deur ‘n tsoenami van emosies en onsekerhede en veral ook verliese oorweldig. Baie van ons moes die moeisame en selfs eensame pad stap van afskeid neem van iemand wat kosbaar en geliefd was in jou lewe.


Die vreemdhede en kompleksiteite wat die maatreëls rondom die Covid-pandemie meegebring het, het veroorsaak dat afskeidsprosesse versteur, en soms selfs ontspoor geraak het. Magteloosheid, frustrasie en angs kon makliker as ooit vantevore in ons lewens kom nesmaak, met die gevolg dat ons regtig nie weet hoe om met betekenis voort te gaan met die lewe nie.


Die soeke na betekenis hou egter nie in dat ons ons ervarings van verlies kan vergelyk, of eenvoudige, voorskriftelike antwoorde kan gee op die talle onbeantwoorde vrae in ons gemoed en gedagtes nie. Dit beteken óók nie dat ek alléén moet treur nie, want dít is ón-menslik.


Om dit dus saam met ander op hierdie deel van jou lewensreis te waag, is eerder die erkenning daarvan dat jy steeds lewe en vorentoe beweeg – dat jy as mede-mens tussen ander wil bly leef met hoop, na die toekoms toe, en met nuwe, of selfs ‘n ander betekenis.

Wanneer ek en jy treur oor ‘n verlies, moet ons erken dat dit vir my en jou onbekende terrein is. Nie een van ons is ‘n ekspert met betrekking tot verlies en die hantering daarvan nie. En tog is daar veel te leer van die lewe juis in ons ervarings van verlies. In ons gedeelde worsteling ontdek ek dat ek op dié manier treur waartoe ek op hierdie oomblik in staat is.


Daar word geleenthede vir gesprek en nadenke oor verlies en die hantering daarvan geskeduleer gedurende Maart en April. Hierdie gespreksgeleenthede begin op Woensdag, 9 Maart, met ‘n ontmoetingsgeleentheid om 19:00 by Kenridge Gemeente.


Almal is welkom om dit by te woon en om deel te neem. Daar word ses geleenthede beplan en die meeste daarvan word vir ‘n Woensdagaand geskeduleer (9, 16 en 22 Maart;

6 en 20 April, en 4 Mei).


Indien jy belangstel en dit oorweeg om by hierdie gespreksgeleenthede in te skakel, kan jy met Teresa Visser by die kerkkantoor gesels (021 9134206 x1), of met Jurie Gouws (021 9131089, of 072 2257585).

15 views

Recent Posts

See All
bottom of page