top of page

Golden Hour


ree

Ek het so ʼn paar jaar gelede die sommetjie gemaak dat die gemeente se jeugbediening ongeveer 28 Sondae per jaar het om direk met ons kinders te werk. In die geval van die kinderbediening is dit ongeveer ʼn uur op ʼn slag en in die geval van die tienerbediening so min of meer 90 minute. Dit gee ons in die gemeente enige iets tussen 28 en 42 ure per jaar en dit is wanneer ʼn kind elke byeenkoms bywoon. Menslik gesproke is dit byna onmoontlik om sinvolle geloofsvorming so te doen. Ons beweeg nou in ʼn fase van die jaar in waar die gemeente vir ʼn hele paar weke nie ʼn direkte rol speel in ons kinders se geloofsvorming nie, as gevolg van eksamens en die vakansie.

Maar daar is hoop!

Die meeste van kinders se geloofsvorming en hul ontwikkeling breedweg, het te doen met die tyd wat hulle in hul ouers se teenwoordigheid spandeer. Die eerste 1000 dae van ʼn kind se lewe het die grootste impak waar genoegsame voeding, stimulasie en veiligheid kinders op ’n baie hoë ontwikkelingskurwe plaas1 en die ontwikkeling hou nie op na die eerste 1000 dae nie – dit gaan aan solank as wat die kinders in verhouding met hul ouers bly leef (selfs as volwassenes.) Sosiale navorsing2 wys dat huishoudings in Suid-Afrika baie minder tyd met mekaar spandeer as in die verlede. Daar is minder tyd beskikbaar én daar is meer goed wat ons tyd opneem. Dit is daarom belangrik om intensioneel met die beskikbare tyd in ons huise te wees.

Die belangrikste tyd in die huis kan die golden hour wees. Fotograwe praat van die golden hour, die tyd rondom sonop en sononder. In ons huise is die golden hour die uur nadat almal in die oggend opstaan en weer by die huis aankom. Dis in hierdie tyd waar ouers hul kinders kan help om God se liefde en genade te leer ken wanneer ons daar met ’n vriendelike, verwelkomende ingesteldheid in die huis beweeg, selfs al voel jy nie so nie – lag en die wêreld lag saam met jou lui die spreekwoord.

Hoe en wat ons met ons beskikbare tyd in die huis doen, loop hand-aan-hand met ons huis se waardes. Ons wil in die golden hour graag praktiese dinge doen wat uitdrukking gee aan ons waardes. As ons sê in huis is “Jesus eerste” dan wil ons in die golden hour eerste met Jesus tyd spandeer. Of wanneer ons waarde is “ons luister na mekaar” gebruik ons die golden hour om na mekaar se stories oor die dag te luister. Dalk is dit rondom die etenstafel of rondom iets te drinke tydens sononder. (Oorweeg gerus die DinkJeug Familie App wat julle in podcast formaat hiermee help. Dit het ʼn storie/toepassing, Bybel gedeelte, besprekingsvrae, gebedswenk en doen-idees. Laai dit af by Google Play of Apple iStore)

Kinders se ontwikkelingsfases bepaal ook die aard van hoe kwaliteit tyd sal lyk. Kleuters en tieners gaan heeltemal verskillende behoeftes hê vir kwaliteit tyd. Kleuters wil dalk stoei op die grasperk, terwyl ‘n tiener eerder ‘n gereelde afspraak in ‘n koffiewinkel waardeer.

Kwaliteit tyd gebeur nie net nie, dit verg beplanning en opoffering dis intensioneel, maar in die Bybel se woorde, dra dit vrug, vrugte wat sal hou.

Eksamen en vakansietyd is ook ʼn ideale geleentheid om die ritmes en roetines wat ons eintlik wil hê in te oefen. Die druk op ons dagboeke en tyd is bietjie minder en ons kan daarom dinge doen, soos ons dit eerder wil doen, sodat ons dit kan bly doen wanneer ons weer onder druk kom.

In die tyd van Hemelvaart en Pinkster word ons herinner aan Jesus se opdrag aan sy dissipels om vir almal naby en ver te vertel van die dinge wat Jesus gedoen het, maar ook dat die dissipels dit met daaglikse gewoontes, van huis tot huis gedoen het, soveel as wat hulle dit vertel het.

Mag ons huise die plek wees waar ons kinders Jesus die beste leer ken.

Groete

Christi

1. Early moments matter. https://www.unicef.org/early-moments

2. BEWUSTHEID - hoe om meer teenswoordig te lewe in ’n gejaagde wêreld. ’n E-kerk tendens verslag, saamgestel deur Mynhardt van Pletsen. www.ekerk.org/tendense

Taljaard, A., & Langner, D. (2011). 'n Foto van Afrikaanse Gesinne in Suid-Afrika. Pretoria: Solidariteit Helpende Hand.

Comments


bottom of page