Hulle sal weet
- bestuurder5
- Aug 15, 2024
- 3 min read

Die Suid-Afrikaanse UFC wêreldkampioen, Dricus du Plessis het in 2023 viral gegaan op sosiale media met die sê-ding: “Hulle weet nie wat ons weet nie.” Sy slagspreuk beteken dat Suid-Afrikaners ʼn klomp goed weet wat ander mense nie weet nie, omdat Suid-Afrikaners ʼn klomp uitdagings te bowe moet kom wat veral mense van eerste-wêreld lande nie mee sukkel nie.
Dit laat my dan dink aan die meme wat ook gereeld in my sosiale media feeds opduik. Daarin word Johannes 13:35 aangehaal wat in Engels sê “And they will know you are my disciples by your... waarop ʼn klomp goed waarvoor “die kerk” of dan georganiseerde Christen godsdiens vandag bekendstaan, gelys word, naamlik reëls, teologie, heiligheid, mag, retoriek, reinheid, klubs.
In die prentjie is daar ʼn rooi streep deur elkeen van daai woorde. Heel laaste staan love en dit is met ʼn rooi pen omkring. Ek vermoed dit sê ons weet nie wat ons moet weet nie.
Ek vermoed ons het in die kerk verlief geraak op begaafde predikers en skrywers, wat dinge vir ons mooi kan opsom in “10 stappe tot...” of “7 beginsels vir...” of “3 reëls teen...”
Ek vermoed ons het verblind geraak deur kwaliteit produksies wat liedjies perform in ʼn styl wat lekker is en in taal en metafoor wat mooi tot my spreek.
Ek vermoed ons het “groot Christene” in ons lewe begin navolg, wat teksverse kan opsê, wat nooit vloek nie en wat selde iets sterker en meer as Nagmaalwyn drink.
Ek vermoed ons het die weeklikse bywoning, die grootte en waarde van bates asook geld in die bank die meetstok van kerke se sukses gemaak.
Daar is ʼn ander meetstok, wat Jesus uitlig in Johannes 13:34 – “Julle moet mekaar liefhê.” Andy Stanley herinner ons in sy boek Irresistible, dat mense van “buite” na ons sal kyk en hulle sal weet of ons dissipels van Jesus is of nie. Hulle sal weet of ons word soos die Een na wie ons vernoem is (Christus) deur die manier hoe ons mekaar liefhet.
Jesus gee die nuwe gebod die oomblik nadat hy al twaalf die dissipels se voete gewas het. Ook Petrus, wat ure later sou sê dat hy nie vir Jesus ken nie. Ook Judas Iskariot, wat oomblikke later vir Jesus sou verraai. Die gebod kom net voordat hy aan die kruis sou sterf – juis om te wys hoe liefde moet werk.
Andy herinner ons daaraan dat ons daarom moet leef met die vraag “Wat vra liefde van my?” en dat die res van die Nuwe Testament, Paulus, Petrus, Jakobus en Johannes se briewe dan gaan oor hoe om dit prakties te maak.
Paulus wil hê dat ons moet weet:
Die liefde is geduldig en vriendelik, die liefde is nie jaloers nie, die liefde blaas nie sy eie beuel nie, is nie vol van homself nie. Dit tree nie onwaardig op nie, stel nie sy eie belange voorop nie, is nie kort van draad nie, hou nie boek van die kwaad wat hom aangedoen word nie. Dit treur oor die onreg wat plaasvind, en juig as die waarheid seëvier. Die liefde bly stil oor ander se foute, dit bly steeds vertrou, dit hou aan met hoop, dit verduur alles. Die liefde sal nooit vergaan nie...” 1 Korintiërs 13:4-8 (NLV)
Ons moet weet; dan moet ons doen; dan sal hulle weet (wat ons weet).
Ons gesels Sondag in die eredienste en volgende week in ons Connectgroepe oor die vraag “What does love require of me?”




Comments