top of page

Is gebed nie dalk tydmors?


ree

‘n Mens sou kon dink dat daar regtig niks nuuts onder die son oor gebed gesê kan word nie. En dalk is jy reg? Want soveel boeke en preke en kursusse het gebed al ontleed en gedissekteer dat byna alles al daaroor gesê is. Of is dit dalk nié só nie? Gedurende die volgende 6 weke gaan ons in ons gemeente dit waag om oor gebed te praat en te dink en te preek. En hopelik gaan ons ook méér en met groter insig bid. En telkemale sal ons weer moet stilstaan by die waarheid dat om te bid eintlik beteken om te luister – na God, na ander, na myself, en na die lewe. Maar áltyd eerste na God. Jesus het baie maal ‘n gelykenis wat Hy vertel het, afgesluit met die woorde: “As iemand ore het en kan hoor, moet hy luister.” Want Jesus het geweet dat dit een van die areas van die lewe is waarin ons as mense dikwels jammerlik faal. Ons sukkel om na mekaar te luister en om te hoor wat die ander vir my sê. En as ek nié geluister het nie, óf nie wóu luister nie, sê ek mos maklik: “Maar ek kon jou nie hoor nie!” Dis ‘n handige, en meestal-onwaar strategie wat ons van kleins-af leer om meesterlik te gebruik wanneer ons ‘n uitweg uit ‘n ongemaklike situasie wil bewerkstellig. Om goed te luister, en werklik te hoor, is ‘n gawe en ‘n kuns. Om te luister, beteken dat jy moet stilbly, teenwoordig wees, ontvanklik wees, ten einde onbevange en met aandag te hoor wat die ander sê. Dit is veral só met God. Want Hy praat dikwels met ons in stiltes, deur ‘n gebeurtenis of ervaring, deur woorde wat ek lees (in die Bybel of elders), en ook wanneer ek bid en met Hom praat. Want om te bid is allermins ‘n monoloog of die aframmel van my wenslysie. ‘n Teologie-professor, Klaus Issler, het ‘n boek geskryf met die titel “Wasting Time with God”. Daarin beskryf hy die lewegewende beginsel wat monnike en nonne en ander gelowiges oor eeue geleer en toegepas het – om in die teenwoordigheid van die Here stil te wees. Sonder woorde, sonder praat – net wéés. Wanneer jy by iemand sit wat baie siek of sterwend is, is God daar teenwoordig. Woorde is dan oorbodig, want tyd in God se teenwoordigheid is genade. Wanneer jy deur die nag by jou siek kind bid dat die koors moet breek en die klein lyfie moet ontspan en rustiger raak, is woorde min, en die liefde en deernis en versugting na God oorweldigend baie. Om in die liefde van die Here Jesus tuis te kom, en veilig te raak, en nét te luister, is stukkies hemel op aarde. En dít is nié tydmors nie. ‘n Opmerking van Pamela Grey (in Prayer: The Divine Dialog) laat mens nogals dink: “For one soul that exclaims “Speak, Lord, for thy servant heareth,’ there are ten that say ‘Hear, Lord! For thy servant speaketh.” Groete Jurie

Comments


bottom of page