top of page

Is ons na alles nog geskok?


 

Deur Melanie Thirion










My kollega en vriend, Ds Rudi Swanepoel*, het toestemming gegee dat ek sy woorde mag leen vir hierdie week se VrydagNuus:

“Ek weet nooit of ons in die enigste land in die wye wêreld bly waar mens semi-konstant absoluut in twee geskeur is nie. Want aan die een kant kan niks jou skok nie (want bv. beurtkrag) en aan die ander kant is daar daagliks nuwes (want beurtkrag het vlakke wat flippen vinnig kan verander).

Een ding is egter seker: ek weet nie van baie ander plekke in die wêreld waar daar heeltyd soveel aanpassings gemaak word om te oorleef nie. En die kompleksiteit laat jou steier, want aan die een kant is daar die herwinner wat teen wie-weet-hoeveel kilometer per uur in William Nicolrylaan (dis nou basies die onmenslik besige pad tussen Sandton en Randburg) regop op sy trollie sonder brieke teen ‘n ysingwekkende afdraande voortsnel en aan die ander kant – nee, sommer aan dieselfde kant van die pad – het jy die plaaslike inwoner van een van die genoemde voorstede wat van haar trollie (toevallig ‘n Porsche) af wil raak omdat sy laat is vir haar naelafspraak.

Ek is skoon bang om oor my eie strooie te kla, want dit sal vir seker met die witbrood onder die arm wees.

Wat ons dalk nié moet doen nie, is om die impak van al hierdie daaglikse uitdagings te onderskat. Want al kan mens dit snaakserig beskryf, is dit nie ‘n grap nie. En tog oorleef ons júís omdat ons nog kan lag.

Nog ‘n ding staan soos ‘n paal bo water: ons leer elke dag nog ‘n lessie by oor hoe om op die randjie van die afgrond te leef. Onthou jy? Daai storie kom mos lankal.

In die 80s was dit sanksies, en ons was op die randjie van die afgrond. In die 90s was dit die Nuwe Suid-Afrika, en (van) ons was op die randjie van die afgrond. Bietjie later was dit Zuma, en almal was op die randjie van die firepool behalwe die man homself en sy geweldige groot gesin en intieme vriende wat eerder in Saxonwold gespeel het.

Maar hierdie huidige kragstorie laat ons genuine op die randjie van iets baie scary leef. Want matrieks. En ander kinders. En besighede. En masjiene. En kar-ongelukke en kokende humeure.

Ja, hierdie is die land van die kollektiewe sug, die uitroep (van verligting) wanneer die krag aangaan, die hart se sak as jy hoor van nog iemand wat onderdeur is. En die aanhoudende, ononderbroke sug van baie wat eintlik niks het om te verloor nie, omdat hulle nog nooit iets gehad het nie.

‘n Mens weet nie meer nie. Maar glo mens nog iets? Waarop hoop jy?

Vir nou, terwyl uiteenlopende gedagtes en vrese deur my binneste stroom, sal ek eers net weer probeer asem haal. Ek sal – terwyl daar nog water in die kraan is – ‘n glas gooi en die slukke registreer.

Dan sal ek onthou dat ek hét.

Kos. Familie. Klere. Vriende. Musiek. Liefde. Dis wat ek het.

Al sukkel ek om geloof en hoop te hê.”

Mag die Here ons naby aan Sy hart hou in hierdie tyd, soos wat ons ook regmaak om Adventstyd in te gaan. Mag ons opnuut beleef dat Christus is Immanuel, God met ons…ten spyte van ons omstandighede.

*Rudi Swanepoel is ook ‘n skrywer (kyk gerus uit vir sy boek “Kom sit aan”). Hy en Ivor Swartz het onlangs ‘n gespreksreeks “Ons vir jou” begin op Netwerk24 se platvorm. Kyk gerus op Ons vir Jou se webwerf as jy meer wil weet https://onsvirjou.tv/




12 views

Recent Posts

See All
bottom of page