top of page

Jesus kom uit 'n disfunksionele familie


ree

Joh 1:14 - "Die Woord het mens geword en onder ons kom woon."


Daar is 'n spreekwoord wat sê: "jy kan jou vriende kies, maar nie jou familie nie." 'n Ander een sê - "elke huis het sy kruis." Dis die waarheid want elke familie het verhoudinge wat nie so lekker is nie. Geen familie is volmaak nie! As 'n mens Jesus se geslagsregister in Matteus 1 lees dan kom jy gou agter dat Hy ook uit 'n disfunksionele familie kom.


Dwarsdeur die Bybel lees ons van disfunksionele families. Adam en Eva se twee seuns kom glad nie oor die weg nie en dit eindig in 'n tragedie. Noag lê op 'n stadium dronk in sy tent en is 'n bespotting vir sy kinders. Jakob en sy ma konkel agteraf en hy bedrieg sy blinde pa en steel sy broer Esau se geboortereg. Jakob trek vir Josef voor, sy broers haat hom, wil hom doodmaak en verkoop hom as 'n slaaf. Dawid pleeg owerspel en moord, en later is daar bloedskande en nog 'n moord in sy gesin. Amper al hierdie karakters was deel van disfunksionele en stukkende families. Lees 'n mens hierdie verhale in die Bybel dan voel dit soms vir jou of daar 'n ouderdomsbeperking op grond van naaktheid, seks en geweld op baie van hierdie familiestories moet wees.


Die verstommende is dat Jesus die Seun van God uit die nageslag van Dawid gebore word. Hy word onteenseglik deel van 'n disfunksionele, wanfunksionerende, stukkende mensdom. Hy kom klim binne in ons stukkende wêreld in om ons en ons families met die offer van sy lewe heel te maak. Selfs sy eie gesin van oorsprong was alles behalwe volmaak. Sy ma raak swanger met hom voor sy getroud was. Sy pa sien nie kans vir die skandaal nie en maak planne om die verlowingskontrak te breek. Hoe dink jy oortuig 'n mens jou ouers en skoonouers dat jou verloofde se swangerskap "van bo af" kom? Toe Jesus twaalf jaar oud was, het hulle Hom by die tempel "verloor". As jy al ooit in 'n besige winkelsentrum omgedraai het en jou kind is weg, sal jy weet hoe dit moes voel! Meer nog - kan jy dink hoe hanteer ouers 'n situasie waar een van jou kinders sê hy is God se Seun? Hoe voel broers en susters oor 'n broer wat sê -"ek is nie van hier nie, Ek is gestuur..."


So wat beteken dit? In hierdie donker tyd in ons land en die wêreld se geskiedenis bring die wete dat Jesus as gewone mens in 'n disfunksionele wêreld kom leef het soveel hoop! Ook in ons eie families wat soms so stukkend en seer is, bring dit hoop. Hy het glad nie 'n probleem om saam met sukkelende, onvolmaakte mense te wees nie. Inteendeel - met Sy deernis en onvoorwaardelike liefde kan ons só op ons gemak voel. En dan help hy ons nog op die koop toe om self heel te word en mekaar heel te maak.


Kersfees herinner ons dat dit oukei is om broos te wees, om deel te wees van families wat nie altyd so uitgesorteerd en gelukkig is as wat dit op Facebook en Instagram lyk nie. Jesus is bewus van al die foto's en intriges wat ons nooit op sosiale media platforms sal deel nie. Hy het juis gekom om heel te maak. Ons het vir seker goeie rede om fees te vier!


Mag die Kersfeestyd van 2023 vir jou en jou mense vreugde, vrede, hoop en heling bring.

 
 
 

Comments


bottom of page