Jesus se biografie
- Kenridge Gemeente

- Aug 19, 2022
- 2 min read

In die 1990’s was daar baie debatte oor wat ‘n Christelike spiritualiteit presies is. Een van die helderste verduidelikings is deur ‘n professor in missiologie aan UNISA gegee. Vir hom was die beeld van Jesus wat aan die kruis hang, die volledigste verduideliking van ‘n Christelike spiritualiteit. Fisies was Jesus aan die kruis ‘n paar voet bo die mense. Daar het Hy tussen God en mense gehang. Presies waarvoor Hy bestem was. As die Verlossingsbrug tussen God en mense. Simbolies was Jesus aan die kruis laer as die mense as onskuldige, ter-dood-veroordeelde, vervloekte maar ook verhewe bo die mense as hulle Verlosser. Hy was ook een van hulle. Net Hy kon as Goddelike wese so laag daal om die sondes van die wêreld weg te neem. Hy het leeg en selfloos daar gehang. ‘n Switserse teoloog, Anton Rotzetter, het weer verduidelik dat ‘n Christelike spiritualiteit eintlik baie eenvoudig verstaan kan word. Dit is die biografie van Jesus. ‘n Lewensgeskrif oor Jesus. Een van die bondigste lewensgeskrifte oor Jesus kom uit Paulus se griffel toe Hy vir die Korintiërs verduidelik het dat Jesus se opstanding die enigste waarborg vir ‘n volgende lewe is. Hy het geskryf: “Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte (1 Korintiërs 15:3-4).” Die vraag is: Hoe beïnvloed Jesus se kruisdood en sy biografie ons? Hoe tref dit ons? ‘n Goeie riglyn kom weereens uit Paulus se griffel uit: “En nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê (Galasiërs 2:20).” Mag God se verbond van liefde jou lewe so verander dat jy en jou nageslag Jesus se koninkryks-ubuntu met glimlagte op julle gesigte bly uitdeel en bly uitleef! Gebed: Here ek wil graag Jesus se baanrekord as my rigtingwyser navolg. Ek wil al die foto’s wat ek van Hom het in my hart bewaar. Help my dat Christus my hele lewe sal word. Amen Lekker naweek verder. Dave




Comments