John Harper se getuienis
- bestuurder5
- Jun 7, 2024
- 2 min read

Ek deel graag vandag met julle die ware verhaal van John Harper. John Harper was ‘n ses-en-dertigjarige wewenaar en ‘n passasier op die Titanic! John was ‘n predikant in Skotland en toe hy uitgenooi word om te gaan preek by die Moody Church in Chicago, VSA, het hy besluit om die vaart oor die Atlantiese Oseaan aan te pak aan boord van die grootste skip wat nog ooit gebou is. Hy is op sy reis vergesel deur sy ses jarige dogter, Annie, en sy suster, Jessie.
Tydens die tragiese nag van 14 April 1912 het ‘n ysberg die wand van die reuse skip stukkend gesny en dit het begin sink. Die passasiers het gespook om ‘n plek op die 20 reddingsbote te kry – vroue en kinders kon eerste aan boord gaan. John het daarom eers gesorg dat sy dogter en sy suster plek kry op die Nommer 11 reddingsboot en toe het hy sy stem bo die waters verhef en die evangelie begin verkondig uit Handelinge 16:31: “Glo in die Here Jesus. Dan sal God jou red en as sy kind aanvaar. Hierdie goeie nuus geld vir jou en vir jou hele huisgesin.”
In daardie laaste ure, soos wat die skip al hoe dieper gesink het, het John vertel van die hoop wat daar in Jesus te vinde is en hy het saam met mense gebid. Kort voor lank het hy, soos honderde ander mense, in die vriesende water beland. Maar selfs toé, terwyl hy aan ‘n drywende plank vasgeklou het, het hy aangehou om sy stem bo-oor die waters te laat hoor om vir mense moed in te praat.
Vier jaar later het oorlewendes van die Titanic-ramp in Kanada bymekaar gekom om hul ervarings met mekaar te deel. Een jong man het vertel dat hy die stem wat oor die waters gesweef het, gehoor het en dat dít hom krag gegee het om aan die lewe te bly klou. Iemand anders het vertel dat John Harper sy reddingsbaadjie vir hom gegee het sodat hy kon bly leef.
John se dogtertjie en sy suster was onder die oorlewendes wat deur die Carpathia gered is. Annie het groot geword en toe sy in 1986 gesterf het, was sy die oudste Skotse oorlewende van die Titanic-ramp. Die kerk in Skotland, waar John bedien het, staan vandag bekend as die Harper Church Glasgow.
So inspirerend as wat John Harper se laaste ure was, was dit die manier waarop hy Jesus nagevolg het in sy daaglikse lewe wat die bron van sy krag was. Ons hoef nie in vriesende water gegooi te word of op die dek van ‘n sinkende skip te staan om ‘n verskil aan mense se lewens te maak nie. God gee aan ons elke dag die geleentheid om mense se lewens aan te raak. Laat ons ook ons stemme verhef bo die “waters” en vertel van die hoop wat daar in Jesus is.




Comments