Jy mag enige tyd bid
- bestuurder5
- Jul 28, 2023
- 2 min read

“17Bid gedurig.” (NAV) / 17“Moenie ophou bid nie.” (NLV) / 17“Praat met die Here elke keer as julle die kans het. Moet nooit moeg word om te bid nie. Hy hoor!” - 1 Thessalonisense 5:17
Ek het ‘n goeie vriend gehad by wie ek baie van die lewe geleer het (hy is ongelukkig al hemel toe). Hy was die bestuurder van ‘n florerende besigheid in die tyd voor selfone. Daardie tyd het oproepe nog by ‘n skakelbord uitgekom en die sekretaresse het oproepe na haar oordeel deurgeskakel of boodskappe geneem. Hy het sy sekretaresse egter opdrag gegee om sy kinders se oproepe áltyd deur te skakel. Hy sou hulle oproepe neem ongeag met wie en waarmee hy besig was. Sy moes hom selfs uit vergaderings roep vir sy kinders se oproepe. Aanvanklik het ek gedink dit is so bietjie te ver gevat. Eerbied en respek vir ouer en ander mense was in my opvoeding diep ingegrafeer – “jy val mense nóóit in die rede nie – veral nie mense wat ouer as jy is nie!”
Hierdie twyfelagtige voorreg binne die ruimte van ‘n andersins baie gedissiplineerde gesinsisteem, het sy kinders egter juis respek en onvoorwaardelike liefde geleer. Hy was ‘n goeie pa wat my aan die Vader van die Ons Vader gebed herinner het. Ek dink God is so. Ons pla hom nooit nie. Inteendeel – ons vra is eintlik maar net ‘n herinnering want Hy is ‘n pa wat weet wat ek nodig het voordat ek hom vra. Hy nooi my o.a. om Hom aan te roep as ek in die nood is en swaarkry. Hy leer my om asseblief en dankie te sê en Hom en ander te respekteer. Ek mag maar bel om te sê dat die toets nie lekker was nie, dat ek nie keuring gekry het nie, dat ‘n vriend my in die steek gelaat het, dat ek teleurgesteld is omdat ek nie my jaarlikse verhoging gekry het nie, of dat ek bang is iemand naby aan my word ernstig siek en gaan dood. Ek mag Hom maar lastig val met enige-iets.
As ons gebede WhatsApp boodskappe was, skakel die Heilige Gees die blou merkies dadelik aan om my gerus te stel dat God gelees en gehoor het, al kom die antwoord nie altyd dadelik en duidelik nie. Ek kan sy tydsberekening vertrou en ek kan Hom maar op die “speed dial” funksie op my gebedsfoon hou. Hy is 24/ 7/365 – altyd reg om ons oproepe te neem. Ons wag nooit in ‘n ry nie al voel dit soms so. God se kinders is so bevoorreg. Ons kan maar net sug dan luister God. Hy is die Heilige God wat in die hemel woon en ek op die aarde. Hy is ewig in sy wese en ons aards, stoflik, en tydelik. Tog nooi Jesus ons in die Ons Vader gebed om die heilige God as Vader aan te spreek. Ons mag Hom op Sy intieme familienaam Abba Vader noem. Vrymoedig, familiêr maar met diep eerbied en respek.
Dink vandag aan hierdie groot voorreg en reis in die volgende weke saam met ons deur die kosbare, tydlose Ons Vader gebed en leer saam met ons, om Sy uitnodiging om deurentyd te bid, ernstig op te neem.




Comments