#kenridgetieners Gr 6-11 ouerbrief 06/09/2022
- Kenridge Gemeente

- Sep 6, 2022
- 3 min read

Liewe Ouers,
Neem Kennis:
Graad 10: Save the date:
Julle graad 10 tiener is volgende jaar deel van ons belydenisgroep. Ons skop reeds hierdie jaar die belydenisproses af met die belydeniskamp op 2-4 Desember 2022 by Kogelberg Farm (na afloop van die eksamen.)
Merk asseblief solank hierdie datum in julle dagboeke, want dit is ʼn baie belangrike gedeelte van die belydenis-proses. Ons sal voor die einde van hierdie kwartaal reeds die inligting en inskrywingsvorm deurgee.
Graad 11: Save the date:
Ons gaan Sondag, 25 September 2022 by ons Anglikaanse bure, Church of the Transfiguration, kuier. Dit sal deel van ons gesprek oor Tradisie wees. Die praktiese daarvan is:
Ons vertrek 08:00 vanaf Kenridge Gemeente.
Hulle diens begin 08:30.
Ons sal ongeveer 11:30 weer terug wees by Kenridge Gemeente.
Dit gaan ons "les" vir die dag vervang. Hierdie is vir my 'n baie belangrike geleentheid wat die kinders asseblief moet bywoon. Ek reël die gemeente se bussie, maar ons gaan nog paar voertuie nodig hê om saam te ry. (Ouers is ook welkom om saam te kom.)
Ouerbrief Graad 6 -11:
Waarheen is ons op pad?
Oor die laaste paar weke deel ek met julle deeltjies van die groot prentjie waarmee ons op reis is in die gemeente en die jeugbediening. ʼn Volgende deel van die prentjie is lidmate wat “Liefde het vir die mense in die wêreld waarin hulle leef.”
Tydens die uitreikkwartaal is hierdie nog ʼn fokus van ons inhoud, maar ons wil graag ons kinders help om dit in te oefen. Aan die einde van hierdie brief is ʼn uitnodiging na nog twee geleenthede om dit in te oefen en ons wil julle graag saam met julle kinders uitnooi.
Wat het ons Sondag geleer?
Ons is besig met die Verbond en Ubuntu reeks en ons het Sondag gesels oor die tema “Onthou om te onthou”.
Ons ontdek dat ons maklik alles wat die Here vir ons doen vergeet.
Ons dink daaroor dat God vir ons goed is, sodat God deur ons ook goed vir ander kan wees.
Ons doen oefen ritmes van onthou.
Saamdoen:
Jou tiener sou deur WhatsApp ʼn prentjie gekry het met ʼn paar tekste vir die week. Daar is wel sommige wat nie toegang tot WhatsApp het nie* en ek wil julle as ouers vra om asseblief die week se teksgedeeltes met hulle te deel (aangeheg.) Julle kan deur die loop van die week ʼn koffie afspraak maak en gesels oor wat julle tiener raaksien in die gedeelte.

Die doen-idee:
In Deuteronomium 6 sê Moses vir die volk hulle moet herinneringstekens maak om hulle te laat onthou om te doen wat God vir hulle vra in die gebooie.
Ons het ʼn armbandjie met linte of toutjies gemaak of ʼn kruisie op ons hand geteken om ons te herinner aan alles wat God vir ons doen.
Die linte of toutjies kan ook aan die kinders se skooltas se zip vasgemaak word om hulle hierdie week aan God te herinner.
By die huis kan julle voor ete ook ʼn rondte vra waarvoor elkeen dankbaar is en dan saam met die gebed vir die kos ook dankie sê vir dit wat hulle genoem het.
*Vir jongmense wie se kontakbesonderhede verander het, kan julle vir my laat weet, sodat ons dit kan aanpas.
Komende Sondag:
Die komende naweek hanteer ons die tema God se verbond met alle mense.
Verder die kwartaal:
Ons herinner julle graag aan ons volgende twee uitreik geleenthede vir die kwartaal:
Vennoot Datum Wat gaan ons doen?
Sobambisana 10 Sept. Verf en instandhouding by die speelarea.
Vertrek 08:00 vanaf die kerk en keer ongeveer 13:00
terug.
Huis Ravenzicht 16 Okt. Braai vir die inwoners.
Om een van hierdie uitreike by te woon, wil ek vra dat julle asseblief die aanlyn-vorm invul by https://forms.office.com/r/hQ9D0skwK4 . Julle sal ook in die vorm sien dat daar inligting van die ouers gevra word. Ons het daardie inligting nodig om vir elke spesifieke uitreik die nodige toestemming en vrywaring te kry, maar ook om ouers se hulp te kry met vervoer en logistieke reëlings.
Hou asseblief die weeklikse ouerbrief, die webtuiste en sosiale media blaaie noukeurig dop om op hoogte van die reëlings te bly.
Shalom
Christi Thirion




Comments