#kenridgetieners (Gr 8-10) ouerbrief 20/09/2022
- Kenridge Gemeente
- Sep 20, 2022
- 3 min read

Liewe Ouers,
NB - Graad 10's:
Save the date:
Julle graad 10 tiener is volgende jaar deel van ons belydenisgroep. Ons wil asseblief die komende Sondag met al die graad 10's en hul ouers gesels oor die pad vorentoe, want ons skop reeds hierdie jaar die belydenisproses af met die belydeniskamp op 2-4 Desember 2022 by Kogelberg Farm (na afloop van die eksamen.) Merk asseblief solank hierdie datum in julle dagboeke, want dit is ʼn baie belangrike gedeelte van die belydenis-proses. Ons sal voor die einde van hierdie kwartaal reeds die inligting en inskrywingsvorm deurgee.
Graad 8-10
Waarheen is ons op pad?
Ons droom vir die jeugbediening is dat die huis en gemeente in vennootskap staan vir jongmense se geloofsvorming. Ons verstaan dit uit die verbondsbeloftes wat ouers en die gemeente by die doop maak, saam met God. Ons verstaan dit ook as ʼn praktiese realiteit, aangesien ouers en jongmense se verhouding die verhouding is waar die meeste vorming plaasvind. Ons weeklikse ouerbriewe is deel van ons uitvoering hiervan.
Wat het ons Sondag geleer?
Ons het Sondag oor die tema Vingerafdrukke van God gesels, na aanleiding van Psalm 19. Die belangrike punte waas:
Jongmense word uitgedaag om na te dink oor hulle verhouding tot die skepping en waarom dit belangrik is om die skepping te bewaar.
Psalm 19 help ons om raak te sien dat die skepping iets van God openbaar of bekendmaak.
Saamdoen:
Julle kan deur die loop van die week ʼn koffie afspraak maak in die tuin of julle kan ʼn middag of wat saam gaan stap om Doordekraal Dam of by Majik Forest en gesels oor wat julle tiener raaksien in die gedeelte.
Nog doen-idees:
Facebook dit – “post” ‘n interessante feit, artikel of skakel oor iets wat jy vandag geleer of aan gedink het op jou social media.
Krap in jou kamer – maak ‘n lys van al jou goed. Verdeel die lys in drie kategorieë: (1) Wat jy nodig het, (2) waarvan jy hou en (3) wat jy nie gebruik nie. Moenie die goed waarvan jy nie hou nie sommer weggooi nie. Maak 'n plan en gee dit vir mense wat dit dalk kan gebruik. Vind uit by 'n welsynsorginasie in jou omgewing.
Herwinning – vind uit waar in jou omgewing is ‘n herwinningsmaatskappy. Kry al die ou selfone, rekenaars, drukkers en prakties alles wat stukkend is en nie meer gebruik word nie en net in die huis rondlê, en neem dit na die herwinningsaanleg of -maatskappy. Moedig jou huismense aan om ook so te maak en hou daarmee aan, nie net as jy gevra word nie, maar omdat jy nie die gesig van die aarde wil vuil maak nie en sodoende God se openbaring in die natuur teenwerk nie.
Plant ‘n inheemse boom – koop ‘n inheemse boom en plant dit in julle tuin of op julle skoolgrond.
“Meatless Monday”’ – Mense oor die hele wêreld kies om een dag in die week (byvoorbeeld Maandae) nie vleis te eet nie. Hoekom? Daar word gesê dat die vleisbedryf een van die kosbedrywe is wat geweldig baie water gebruik. Die verwerking van vleis vereis baie water. Sommige mense tel die water wat die diere (skape, beeste, hoenders) in hulle leeftyd moes drink, asook die water wat gebruik is om die kos te kweek wat die diere gevreet het. “Meatless Mondays” is iets om in julle gesin te oorweeg. Gaan lees meer daaroor by www.meatlessmonday.com en ook by http://ga.water.usgs.gov/edu/sc1.html
Herwinning by die huis – begin julle huis se plastiek, glas, papier, blik en karton in verskillende houers te sit. Baie munisipaliteite het deesdae 'n diens wat herwinningsrommel oplaai, afsonderlik van die gewone vullis.
Komende Sondag:
Die komende naweek hanteer ons die tema Hoeveel is genoeg?
Volgende kwartaal:
Ons beplan om volgende kwartaal ʼn reeks met die titel “Wilde Geloof” te doen. Dit gaan saam met ʼn paar buitelug aktiwiteite. Vir die vierde kwartaal gaan ons dus ons tye bietjie verander en voor die aanddiens bymekaarkom om dit te akkommodeer. Van die aktiwiteite sal ook hulp van die ouers af nodig hê. Ons deel volgende week meer besonderhede.
Ons herinner julle graag aan ons volgende uitreik geleentheid aan die begin van die vierde kwartaal:
Vennoot Datum Wat gaan ons doen?
Huis Ravenzicht 16 Okt. Braai vir die inwoners.
Om hierdie uitreik by te woon, wil ek vra dat julle asseblief die aanlyn-vorm invul by https://forms.office.com/r/hQ9D0skwK4. Julle sal ook in die vorm sien dat daar inligting van die ouers gevra word. Ons het daardie inligting nodig om vir elke spesifieke uitreik die nodige toestemming en vrywaring te kry, maar ook om ouers se hulp te kry met vervoer en logistieke reëlings.
Hou asseblief die weeklikse ouerbrief, die webtuiste en sosiale media blaaie noukeurig dop om op hoogte van die reëlings te bly.
Shalom
Christi Thirion
Leraar
コメント