top of page

#kenridgetieners ouerbrief (31/05/2022)


ree

Liewe Ouers,


Graad 6 & 7


Wat het ons geleer?

Ons het Sondag in ons groepe gesels oor twee stories van 'n Romeinse offisier. Een van die resultate van Jesus se kruisiging is juis dat Jesus onder die mag van heidene gesterf het en daarom ook vír heidene. Jesus is koning oor almal wat bereid is om sy gesag te aanvaar.

  • Verstaan (Kennis, feite, insig): Om te ontdek wat gesag beteken en hoe om dit te hanteer.

  • Refleksie (Persoonlik insig en wysheid): Om te reflekteer oor die plekke waar ek gesag uitoefen en waar gesag oor my uitgeoefen word.

  • Impak (Aksie en optrede): Om mense met gesag te respekteer en my gesag en invloed tot voordeel van ander te gebruik.


Saamdoen:

Ons wil julle as ouers aanmoedig om iewers gedurende die week ʼn koffie-afspraak met jou tiener te maak en dan weer oor die tema te gesels. Julle kan dan die volgende riglyne gebruik om te gesels:

  • Luister saam na die Examen-gebed en gesels dan oor die plekke waar julle onder gesag staan en waar jy gesag oor ander het. Hoe help gesag jou en hoe benadeel dit jou?


Komende Sondag:

Ons gesels die volgende Sondag oor Jesus en Tomas.



Graad 8-11


Ons het Sondag die kwartaal afgesluit met ʼn meditatiewe oordenking van Psalm 139.


Wat het ons geleer?

  • Verstaan (Kennis, feite, insig): Om te ontdek dat God ons deur en deur ken – al ons donker dele, maar ook al die potensiaal wat in ons lê.

  • Refleksie (Persoonlik insig en wysheid): Om te reflekteer oor die effek van die donker dele van my lewe – dit wat ander mense veroorsaak, maar ook dit wat ek veroorsaak.

  • mpak (Aksie en optrede): Om nie my lewe deur die lens van my donker kante te interpreteer nie, maar uit die hoek van God se genade – deur God se vingerafdruk oor my lewe en om God se genade te ontvang en so my potensiaal te verwesenlik.


Saamdoen:

Ons wil julle as ouers aanmoedig om iewers gedurende die week ʼn koffie-afspraak met jou tiener te maak en dan weer oor die tema te gesels.

Julle kan weer Psalm 139 saam lees (lees dit vir mekaar een maal uit Die Boodskap vertaling en een maal uit die Nuwe Lewende Vertaling – dis gratis beskikbaar op die gratis YouVersion Bybel App.) Julle kan dan die volgende riglyne gebruik om te gesels:

  • Watter gevoelens kom by julle na vore wanneer julle hoor dat God jou deur en deur ken; dat jy niks vir God kan wegsteek nie; en dat God wonderlike gedagtes oor jou dink?

  • Luister saam na die Examen-gebed en gesels dan oor die maniere hoe julle die laaste tyd beleef het dat God wonderlike gedagtes oor jou dink?


Komende Sondag:

Ons #kenridgetieners groepe het nou afgesluit vir die kwartaal. Ons wil julle wel aanmoedig om as huishouding een van die eredienste hierdie Sondag by te woon. Die Sabbat en die byeenkoms van die gelowiges is ʼn manier hoe ons vertroue in God inoefen, veral in druk tye soos eksamens.



Shalom

Christi Thirion


Comments


bottom of page