top of page

#kenridgetieners ouerbrief (Gr 6-11) 31/01/2022




Liewe Ouers,


GRAAD 6 & 7:


Groepleiers:

Ons is baie dankbaar vir die groepleiers wat nader gestaan het. Ons het wel nog ʼn behoefte by die graad 6 & 7 seuns-groepe vir groepleiers. Kontak my asb. direk by die kontakbesonderhede hier onder indien jy sal brûe bou soos Jesus met hierdie groepe.


Wat het ons geleer?

Ons het die afgelope Sondag begin met ons reeks “Bid soos ‘n held” met die storie van Moses uit Eksodus 17:1-7. Die les het die volgende uitkomste gehad:

  • Verstaan (Kennis, feite, insig): Dat die kinders ontdek dat God weet wat sy kinders regtig nodig het en dit vir hulle op die regte tyd sal gee.

  • Refleksie (Persoonlik insig en wysheid): Om te reflekteer oor dit waarvoor ek die Here vertrou en hoe die Here dit moet doen.

  • Impak (Aksie en optrede): Om eenvoudig te bid oor wat ek nodig het, wanneer ek dit nodig het.


Saamdoen:

Ons wil julle as ouers aanmoedig om iewers gedurende die week ‘n koffie-afspraak met jou tiener te maak en dan weer oor die tema te gesels. Julle kan weer na die teksgedeelte kyk en dan die volgende vrae gebruik om te gesels:

  1. Wat het Sondag vir jou uitgestaan oor die storie van Moses wat bid?

  2. Hoe help dit jou om te bid?

  3. Waarvoor kan ons bid? (Ouer en kind deel)

a. Wat het gebeur? Wil jy jammer sê of vergewe? Wil jy dankie sê?

b. Wat lê voor? Is daar iets waarna jy opsien? Is daar iets waarna jy uitsien?

c. Kom ons bid vir mekaar.


Komende Sondag:

Die komende Sondag gesels ons oor gebed uit die storie van Hiskia.



GRAAD 8-10:


Baie dankie vir elkeen wat nader gestaan het om brûe te bou soos Jesus by die tienerbediening.


Wat het ons geleer?

Ons het Sondag begin met die reeks “Gebed – Soos Jesus ons leer...” en die afgelope Sondag het ons gesels oor die bede “Ons Vader...” Ons het daaroor gesels aan die hand van Matteus 6:9 en Romeine 8:11-17 en die volgende uitkomste was belangrik:

  • Verstaan (Kennis, feite, insig): Om te ontdek dat God naby en intiem met ons elkeen wil lewe.

  • Refleksie (Persoonlik insig en wysheid): Om te reflekteer oor hoe ek God sien en hoe dit die maniere waarop ek bid affekteer.

  • Impak (Aksie en optrede): Jesus gee ons met die bede toestemming om naby aan God te kom, net soos ons is. Ons kan enige tyd bid met die woorde wat ons het, maak nie saak hoe dit klink nie.


Saamdoen:

Ons wil julle as ouers aanmoedig om iewers gedurende die week ʼn koffie-afspraak met jou tiener te maak en dan weer oor die tema te gesels. Julle kan weer na die teksgedeelte kyk en dan die volgende vrae gebruik om te gesels:

  1. Wat het vir jou uitgestaan uit Sondag se tema?

  2. Jesus leer ons om te bid “Onse Vader...” maar in die Bybel beskryf God homself soms ook as ‘n ma. Wat is een of twee van die beste eienskappe van ons (jou ouers) wat jou help om aan God te dink?

  3. Kom ons bid saam die Onse Vader.


Komende Sondag:

Die komende Sondag begin die aanddiens weer. Ons nooi julle om saam met julle tieners om 18:30 die aanddiens by te woon. Die tieners sal dan na die lofprysing en die preek uitgaan na hulle groepe, waar hulle tot ongeveer 20:00 sal gesels “...oor God se Heiligheid.”



GRAAD 11 (Belydenisklas):


Ek Glo - Belydenisklas ouerbrief


Ons het gisteraand bymekaar gekom met ʼn voëlvlug oor die eerste kwartaal. Ons het ook vir Dana Pretorius ontmoet, wat saam met Louis by die manne betrokke gaan wees. Verder het ons ʼn gesprek oor die praktiese kwessies van belydenisklas. Een van die belangrikste is weeklikse bywoning. Ons besef deeglik dat graad 11 deur onderwysers as die belangrikste jaar van hul skoolloopbaan geag word en daarom is daar geweldige druk wat kompleksiteit en inhoud van die skoolwerk betref.


Die belydenisjaar is ook geweldig belangrik, maar nie oor prestasie en kurrikulum-druk nie, maar juis uit die hoek van identiteitsvorming. Die fokus is op wie die tiener is in die oë van God en watter geskenke God in elke tiener se lewe geplaas het om hulle hiervan bewus te maak. Soos byvoorbeeld die doop, wat ons kinders insluit in God se genadeverbond sonder prestasie of verdienste – dat hulle reeds deel is van God se spesiale mense. Dit is dan juis ook die gesprek waarop ons gaan fokus die komende Sondag.


Koshuis-Belydenisklas begin Sondag:

Ons is ʼn lang tyd al bewus van die uitdaging wat koshuis-kinders beleef om #kenridgetieners by te woon en dan op ‘n Sondagaand weer betyds by die koshuis te wees. Daarom begin ons eerskomende Sondag met ‘n koshuis-belydenisklas, wat direk na die oggenddiens onder Jako Visser se leiding sal plaasvind. Jako was voorheen praktiese student in die gemeente en werk tans vir Hospi-Vision. Indien julle van hierdie geleentheid gebruik wil maak, stuur asb. jou kind se naam, selfoon nommer en skool na my by die kontakbesonderhede hier onder. Ons wil graag teen Vrydag 4 Februarie ʼn WhatsApp groep opstel om hierdie groep te kan koördineer. Die uitnodiging is ook oop vir jongmense in ander gemeentes in ons omgewing, wat ʼn soortgelyke uitdaging beleef.


Komende Sondag: Begin by die begin – die doop.

Twee byeenkomste:

10:00 - 11:00 (Direk na die oggenddiens.)

18:30 – 20:00 (Begin saam met die aanddiens, en groepe verdaag na die preek vir groepbyeenkoms.)


Shalom


Christi Thirion

Leraar

Tel: 021 913 4206 (x125)

Sel: 082 728 9762

Instagram: @christi.thirion

Facebook: /christi.thirion

Twitter: @christiThirion


16 views

Recent Posts

See All
bottom of page