Kinderbediening ouerbrief (3jr - Gr 5) - 12/09/2022
- Kenridge Gemeente

- Sep 12, 2022
- 2 min read

Kleuterbediening - 3 jaar - Graad R
Goeiedag Kleuter ouer
Ons het gister by die kleuterkerk verder in Moses se verhaal ingegaan, en die storie van Moses by die brandende bos gehoor (Eksodus 2:11-15, 3:1-6). Julle kan weer saam die storie lees uit ‘n Kinderbybel of na die storie kyk op YouTube - https://youtu.be/SfR1x3lvrvs
Gesels saam: God kies vir Moses vir ‘n baie belangrike taak. Moses was bang en het nie kans gesien nie. Maar God wys hom dat God saam met hom sal gaan en vir hom sal help.
Herinner jou kind dat God ook lief is vir hom/haar en dat God altyd by hulle sal wees en hulle sal help met dinge wat soms vir hulle te groot en moeilik voel.
Ons sien julle dan weer komende Sondag by kleuterkerk waar ons verder gaan met Moses se storie.
Geniet die week saam met jou kleuter.
Kinderbediening - Graad 1 - 5
Goeiedag Ouers
Ons het gister by die kinderkerk gekyk na die profeet Elia. Ons kry sy verhale in 1 Konings 17 tot 2 Konings 2. Ons gesels saam oor Elia se baie spesiale band met God en dat God hom keer op keer beskerm.
Ons kyk na die gedeelte in 1 Konings 19:11-13. God wys sy krag vir Elia eers in ‘n windstorm en toe in ‘n aardbewing en toe deur vuur. Elke keer soek Elia God in elk van hierdie gebeure, maar God is nie in dit nie. Dan vind Elia God in die stilte.
Die vraag wat ons mekaar die week kan vra: “Waar kry ons God?” Is dit nie ook wanneer ons stil raak nie!
NB: Ons by die kinderkerk wil vir ons Kerssang diens ‘n koerantjie uitgee met "onthou stories" van ons gemeente mense in. Stories wat vertel hoe God vir jou/julle gesorg het. Dalk was daar ‘n tyd in die afgelope 2 of 3 jaar waar jy iets beleef het van God se goedheid en guns… en wat jy soos Moses kan sê: “Onthou jy die keer toe God”.
Ek soek daai storie. Skryf dit vir my neer en stuur dit vir my per epos. (susanj@ngkenridge.co.za)
Geniet die week saam met julle kinders
Groete
Susan Johnston
Kinderwerker




Comments