Lente-lewe
- bestuurder5
- Sep 15, 2023
- 4 min read

Soos ek nou skryf, bibber ek na een van die koudste nagte hierdie jaar en dis reeds middel-September! Tegnies is dit lente. Ons sien oral die tekens daarvan in die tuine en op die plase hier rondom ons. Miskien het jy ʼn gestel soos myne en dan leef jy nou ook in die seisoen met baie hooikoors...
Lente is gewoonlik ʼn spesiale tyd omdat dit die natuur se uitbarsting van nuwe lewe is. Hier by ons in die Kaap kry mense weer lewe na die donkerte van baie kort, bewolkte en reënerige dae. In die somerreën gebiede sien die mense uit daarna dat die eerste lentereëns die ergste winterstof laat lê en in die grasvelde weer nuwe groenigheid sal bring.
Ek vermoed dat ʼn klomp van ons vir lente in ons lewens ook wag. Ons lewens het ook maar seisoene. Dis nie altyd die reëlmatige 12-week seisoene wat die natuur het nie, maar nogtans. Ons wag vir vernuwing en nuwe lewe in ons gedagtes, emosies en omstandighede.
Een van die apostel Paulus se bekendste gedeeltes in die Bybel gaan juis oor vernuwing. Hy sê in Romeine 12:2 (NLV) “...laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe.” Ek wil graag hierdie gedagte van Paulus meng met ʼn hulpmiddel uit die coaching wêreld, die G.R.I.T. skema. G.R.I.T. is die akroniem vir gratitude, remember, intention, talk.
Gratitude
Dankbaarheid is die energie wat ons nodig het vir ʼn nuwe lente-seisoen. Meestal is ʼn winter-seisoen in ons lewe gekenmerk deur verlies. Dit kan verlies aan ʼn verhouding, drome en ideale of aan ons liggaam of middele wees. In sulke tye is dit sinvol om te reflekteer op ons verlies en die verlies goed te verreken. Wanneer ons op verlies fokus, sien ons egter net dit wat nie meer daar is nie. Dankbaarheid help ons om dít wat ons wel nog het, raak te sien. Dit help ons om te sien dat ons lewens nie totaal uitmekaar val nie en dat ons iets het om mee vorentoe te gaan. Paulus maak dit die basis waaruit vernuwing kom wanneer hy skryf: “As julle dink aan alles wat God in sy groot barmhartigheid vir julle gedoen het...” (Rom. 12:1 – NLV), want aan die einde van die vorige hoofstuk bevestig hy juis “Hy is die bron van alles. Alles bestaan deur sy krag...” (Rom. 11:36 - NLV) en “En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet...” (Rom. 8:28).
Remember
Hierdie onthou raak aan die TED spreker en skrywer, Simon Sinek se beginsel van remember your why. Simon Sinek sê basies dat jy betekenis (purpose) vind in enige werk of omstandighede as jy kan onthou hoekom jy dit doen of hoekom jy in die wêreld is. Dis inderwaarheid om weer in voeling te kom met jou kern-waardes. Ek vermoed dit was Paulus se idee toe hy geskryf het “Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie...” (Rom. 12:2 – NLV). Vir ʼn lente-lewe beteken dit dat ons motivering gaan soek by God deur die Bybel te lees, eredienste en connectgroepe by te woon, eerder as by sosiale media influencers en self-help boeke. God is die bron van alles, (Rom. 11:36); God gee aan ons lewe; God gee aan ons leiding deur die Bybel; en God anker ons in die gemeenskap van gelowiges.
Intention
Intention neem ons vorentoe. Intensies in hierdie akroniem is om die volgende tree vas te stel en dit is regtig so eenvoudig soos wat is die volgende ding wat ek moet doen. Die lente seisoen is die beginpunt, nie die eindpunt nie. In die natuur begin die groeiseisoen met enkele bloeisels en dan botsels. Dis nooit kaal winter takke vandag en welige groen blare en ryp vrugte môre nie. Dis bietjie-vir-bietjie en vir ʼn lente-lewe is dit om die volgende ding, wat ek weet moet gebeur, te doen of in Paulus se Romeine 12-taal, dit wat ek kan doen. Hy sê ons het elkeen gawes (Rom. 12:6-8), iets in ons hand en ons moet dit wat ons as natuurlike gawe het, gebruik tot diens en voordeel van ander. Maak die onderneming (intention) om elke dag te doen wat jy moet en/of kan, met wat jy het.
Talk
Laastens het ons talk en hier gaan dit in die coaching wêreld rondom hoe jy met jouself praat en om jouself te bevestig (affirmations). Vir ʼn lente-lewe soos ons dit in Romeine raaksien gaan dit eerder dan oor gebed. In Rom. 12:2 sê Paulus dat God ons verstand vernuwe sodat ons God se wil kan onderskei en in Rom. 12:14 sê Paulus dat ons namens teëstanders (en teëspoed?) vra dat God hulle seën. Dit gaan dus daaroor om met God te praat omdat ons onthou dat God is God and I am not. Dat God die bron van krag en vernuwing bly.
Mag jy in hierdie tyd lente op vele maniere beleef! Mag jy deur die G.R.I.T. skema by God die krag daarvoor kry. Mag jy aanhou om dan ook vrug te dra wat ander sal help om God se genade en goedheid deur jou te beleef.




Comments