Maak 'n verskil
- bestuurder5
- Oct 27, 2023
- 3 min read

Ek sit vanaand by my agterdeur met ‘n trui en ‘n koppie tee. Die sewe-uur nuus het my weer ‘n keer seer en hartseer gemaak. Dit is moeilik om dapper dinge te bid wanneer die wêreld my bang maak. Maar, ek tel my slingervel-tong op en bid ‘n klein-klippie-gebed tot ‘n God wat groter is as enige Goliat.
As ek op ‘n aand by my agterdeur sit en my koppie tee hier moet los en onder die stoeplig van my hemel-huis moet gaan staan, hoop ek dat:
ek ‘n stukkie hemel aarde toe gebring het,
ek vir die mossies mag fluister waar daar krummeltjies mors,
dat ek darem ‘n boek kon skryf vir my kleinkinders,
dat ek die baie wynring-koerante en vuil-vat-foto’s, wat ek al my hele lewe lank in ‘n skoenboks bêre, miskien kan saamvat,
dat ek op ‘n manier vir my naastes kan kom kuier as hulle sukkel om te slaap,
dat ek vir my geliefdes saggies kan sê dat hulle nie môre se pad met gister se skoene moet stap nie,
dat ek in hulle skaduwee saam met hulle sal kan stap as die pad styl raak,
dat ek vir hulle “ek-is-lief-vir-jou” sticky-notes tussen die sterre kan plak,
dat ek vir elke hand wat weggeneem het weer twee hande gegee het wat herbou,
en dat ek vir elke belofte wat gebreek was weer vir my medemens rede sou gee om te vertrou.
As ek my veldskoene moet verruil vir ‘n bo-aansig van ‘n tent, hoop ek dat ek:
merke gemaak het waar my liewes en my dierbares hulle pale en penne kan inkap,
en dat hulle sal onthou dat ek nooit hekke oopgemaak het nie, maar eerder bo-oor geklim en geklouter het,
dat ek altyd die skape getel het, al honderd, soos Jesus het,
en nie baie bagasie gedra het nie, sodat ek albei my arms om my mense se nekke kon gooi as ek hulle wou groet.
Ek klou en kleef aan stukkies sentiment, want hulle pas nie almal binne my skoenboks nie… en doen ek dit, want een aand, dalk gouer as later, moet ek my tee hier los – en hoop ek dat die gebede en die boeke en die boodskappe en die besoeke genoeg was vir die Here om in my ‘n welbehae te hê.
As ek lief was soos wat Hy lief is, was my lewe die moeite en die mooi en die moeilikheid werd.
My skoenboks-skatkis is kosbaar, maar dit gaan nie vergelyk met die kaste en die kiste van die hemel nie. Ek dink die hemel se weelde gaan my skaam maak vir die dinge waaraan ek hier waarde geheg het.
Niks behoort aan my of my voorganger of my navolger nie. Alles is geleen.
Elke daad is nietig en nutteloos as dit nie ‘n liefdesdaad is nie.
Wie ek ken en wie my ken is irrelevant. Dat ek Hóm ken, was om ‘n lewe te leef.
So, ek geniet my koppie tee en gesels met my Here by my agterdeur - totdat ek Sy voordeur haal. Ek bid dat ek die sewe-uur nuus se groot seer en groot hartseer op minstens sewe klein maniere sal kan verlig. Ek mors ‘n paar krummeltjies vir die mossies en stuur ‘n “ek-is-lief-vir-jou” boodskap vir ‘n geliefde.
Johannes 4:27 – 42
(vrye vertaling):
“Elke dag, enige dag wat jy ‘n verskil kan maak in iemand se lewe,
iemand se lewe verander – dis ‘n goeie dag.”




Comments