Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?
- bestuurder5
- Dec 8, 2023
- 1 min read

Ek wil graag ‘n stukkie Skrif onderstreep – met die oog op 2024. Die wisseling van jare lê nou vir ons voor: die wisseling van 2023 na 2024. En is dit vir my standaard om hierdie tyd van die jaar tot stilstand te kom en hierdie spesifieke en hierdie spesiale Skrif-gedeelte uit Eksodus te lees:
Eksodus 33: verse 14 en 15:
“Toe het die Here gevra:
‘Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?’
Toe het Moses vir Hom gesê:
‘As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie.”
In Eksodus 33 lees ons die gesprek tussen God en Moses. Dit volg op die verskriklike geskiedenis van God en die volk en die goue kalf. Moses was in ‘n woestyn – beide letterlik en figuurlik – maar was hy nugter en vroom genoeg om te weet dat hy hierdie woestyn nie sal oorleef en uitoorleef sonder sy God nie.
Moses se antwoord op God se vraag is aangrypend: daar is vir hom géén kwessie nie: óf die Here gaan saam, óf hulle bly.
Is my en jou antwoord op God se vraag dieselfde antwoord as Moses se antwoord?
Die teenwoordigheid van God maak ‘n verskil in jou jare – ook in die volgende jaar. Dit is waarop Moses se getuienis neerkom. Dit is die teenwoordigheid van die Here wat maak dat ons nie hopelose mense is nie. Dit gee vir ons die vrede om van die een jaar na die volgende jaar te trek.
My gebed vir jou en vir my is ‘n eenvoudige gebed:
Mag die Here met ons saamgaan en vir ons vrede gee. Amen




Comments