'n Goeie skuif uit seerplekke uit
- bestuurder5
- Jun 2, 2023
- 2 min read

Robert Meye vertel hoe baie Walther Lüthi, ‘n Switserse prediker uit die vorige eeu, se boodskappe vir hom beteken het. Robert was ‘n kankerlyer wat moes veg teen terneergedruktheid. Hy onthou veral een frase uit ‘n boodskap uit wat vir hom goud werd was. Die preek was oor Romeine 8. Paulus skryf daar: ‘Ek weet vir seker dat ons huidige lyding hoegenaamd nie vergelyk kan word met die heerlikheid waarmee God ons gaan verras nie.’ Lüthi se mantra hieroor wat op meer as een manier vir Robert nuwe hoop besorg het, was: 'Suffering is a teardrop. Glory is an ocean.'
Tim Keller het in 2013 ‘n boek geskryf met die titel: ‘Walking with God through Pain and Suffering.’ Hierin maak hy onder andere die punt dat om vir God waarlik te ken, mense eers gestroop moet word. Lyding en swaarkry is baiemaal daardie stroper. Daarna verander ons. Dan soek ons vir God. Dan bid ons tot Hom en gehoorsaam ons Hom.
Swaarkry is niemand se maat nie en nie ‘n onderwerp om lagspiere mee te probeer prikkel nie. Maar die sinvolste verwikkeling wat uit lyding en swaarkry kan groei is dat mense se fokus en hulle prioriteite so swaarkry-swaarkry wegskuif van hulleself af na die Here en na ander mense toe.
Josef en sy broers se episodes verduidelik hierdie groeikurwe mooi. Eers is Josef die vermakerige, bedorwe brokkie met die mooi jas. Redelik tevrede met homself en sy drome. Maar in Genesis 50, na ‘n hele paar meule van onreg en mishandeling, sê hy vir sy broers: "Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat 'n groot volk nou in die lewe gebly het. Moenie bang wees nie. Ek sal sorg dat julle en julle kinders kos het."
Josef se fokus het deur trauma en swaarkry weggeskuif van homself af na die Here en na ander mense toe. Jesus hoef nie ‘n skuif te gemaak het nie. Hy was van altyd af volledig in diens van sy Vader en al die mense van die aarde.




Comments