top of page

'n Paar woorde wyl ek groet



Na 'n bediening van amper 37 jaar tree ek DV op 31 Maart uit die voltydse bediening. Na legitimasie in Pretoria in Nov 1986 het ek in 1987 vir 8 maande as proponent in Tzaneen-Wolkberg gemeente  afgelos. Oom Giep - die leierouderling het vroeg vroeg die vrymoedigheid geneem om vir my in liefde te sê dat ek vervelig en bietjie ingewikkeld preek. Ek het blykbaar die voer te hoog gehang - soos vir die kameelperde - en van die skape vergeet. Juis in daardie tyd het die sê-ding posgevat dat dominee's oor die algemeen in die week onsigbaar en Sondae onverstaanbaar is. Sedertdien het ek hard gewerk om sigbaar, verstaanbaar, getrou aan myself en by uitstek getrou aan God en Sy Woord te leef en te bedien. Ek is vandag dankbaar vir die mate waarin ek dit hier en daar kon regkry!

 

Ek is besonder dankbaar vir die 18 jaar in Queentown Gemeente (1987-2005) en die 18 jaar in Kenridge Gemeente (2005-2024) Dit is twee wonderlike gemeentes en gemeenskappe met wonderlike mense wat ons altyd met liefde omarm en ons as gesin onvoorwaardelik aanvaar het. Ek het telkens wonderlike kollega's gehad saam met wie ek kon bid, lag, huil, en werk. Ek kon by elkeen van hulle iets anders oor die lewe en die bediening leer. Ek was in beide gemeentes bevoorreg om saam met my kollega's opwindende vernuwingsprosesse te fasiliteer om die kerk te help aanpas by nuwe werklikhede!

 

Ek reken my op geen manier in die liga van Paulus nie. Soos Johannes die Doper van Jesus gesê het - "Ek is nie eers werd om die riempies van sy sandale los te maak nie.” Maar ek identifiseer graag met Paulus se woorde soos hy dit in 1 Kor 2:1-5 verwoord:

"1Broers en susters, toe ek destyds vir die eerste keer na julle toe gekom het, het ek nie ’n stortvloed woorde of indrukwekkende wysheid gebruik om aan julle God se groot geheim, naamlik die Goeie Nuus, te verkondig nie. 2Want ek het besluit om as ek by julle is, net op Jesus Christus te konsentreer en veral op sy kruisdood. 3Ek het na julle gekom in swakheid – angstig en vol huiwering. 4My boodskap en my prediking was bitter eenvoudig. Ek het julle nie probeer oorreed deur geleerde welsprekendheid nie, maar deur die Heilige Gees wat kragtig onder julle gewerk het. 5Dit het ek gedoen sodat julle geloof nie sou berus op menslike geleerdheid nie, maar op die krag van God." 

 

Ek groet met die gerustheid dat julle geloof nie berus op 'n mens se bediening of boodskap nie - maar net op Jesus - die gekruisigde!

 

Ek hoor dikwels nou die vraag: "En wat gaan jy nou doen?" Ons is mos 'n generasie wat moet doen om te wees. Tussen Laingsburg en Beaufort-Wes op die N1 kry mens dikwels 'n groot padteken wat sê : "If tired - stop and rest". So - ek en Retseh het vireers 'n begeerte om te rus - om net te wees. En op ons reis verder soos wat die Here ons dit gun, wil ons ook by die padtekens wat na 'n piekniek-stilhouplek wys, afdraai en piekniek hou. Ons wil letterlik en figuurlik agterpaaie ry en by padstalletjies stilhou. Ons vertrou die Here vir goeie gesondheid en om nog lekker dinge saam met ons kinders Wian, Wilani en Reghardt te doen. Ons is trots op hulle en dankbaar vir hulle!

 

Ons het die res van 2024 as 'n Sabbatsjaar uitgeroep om te rus en die Here se stem te hoor oor hoe ons bediening vorentoe moet lyk. Ons hang nou eers ons gemeente-stewels op met die hoop om met gemakliker langpad-tekkies verder te hardloop. Ons prys God vir 'n leeftyd se oorvloedige genade.

 

Vrede vir julle.

 

Willem Lötter

15 Maart 2024



133 views

Recent Posts

See All
bottom of page